Orde by hof verdien vermelding

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Die ordelike gedrag van die publiek wat die opspraakwekkende moordsaak van die gewese soldaat Preston Titus bywoon, verdien vermelding.

Hoewel die moord en die hofsaak baie aandag getrek het, van die begin af baie emosie gewek het, en mense sterk menings daaroor huldig, was die gedrag van die pu­bliek nog elke keer onberispelik.

En so ook die gedrag van die baie mense wat elke keer buite in die straat moet wag op nuus oor wat die dag in die hof gebeur het – soms vir byna ’n hele warm somersdag – omdat die klein hofsale in die Oudts­hoorn-hofgebou nie ruimte het vir meer as 40 mense nie.

Onder dié 40 mense tel familielede van die beskuldigdes, lede van die media en ’n aantal polisiebeamptes wat hoofsaaklik in die voorste ry sit.

By elke hofverskyning word die hofgebou se voordeur en veiligheids­hek toegehou met polisiebeamptes en sekuriteitspersoneel wat toegang daar beheer.

Die ordelikheid kan in ’n groot mate ook toegeskryf word aan die wyse waarop sekuriteitspersoneel, hofpersoneel en polisiebeamptes die pu­bliek hanteer en na versoeke luister.

Die hooflanddros van Oudts­hoorn, Jaco Lambrechts, se betrokkenheid en sigbaarheid by die ingang en in die hofsaal by nog elke hofverskyning verdien ook vermel­ding.

Hierdie is ’n belangrike reeks hofsake ná ’n moord wat vir Preston Titus se familie, vriende, maar ook vir baie inwoners van Oudtshoorn, traumaties en skok­kend was.

Dit is goed om te sien dat mense op ’n gedissiplineerde manier die regsproses respekteer