Deur Liesel le Roux
DIT is tyd dat die gemeenskap van die Klein Karoo opstaan teen die afskuwelike manier waarop vroue aangeval, mishandel, verkrag en vermoor word – ja, ook hier om ons in die Klein Karoo. Net in die Groter Oudtshoorn was daar die afgelope twee weke twee skrikwekkende voorvalle – een ’n vrou wat dae lank gemartel is en die ander ’n 16-jarige tienermeisie van Blomnek wie se verbrande liggaam in die veld gevind is.
Wat sê hierdie voorvalle van ons as ’n gemeenskap? In hoe ’n mate laat ons toe dat dit gebeur?
En ja, wat sê hierdie voorvalle van die jong mans in ons gemeenskap wat so teenoor ’n vrou optree en toegelaat word om so op te tree.
Ons mag nie ons oë toemaak vir enige geweld nie. En veral ook nie as dit herhaaldelik voorkom nie.Want wat die verskoning ook al is van die slagoffer waarom sy dit toelaat, en van die aggressor oor waarom hy dit doen, is dit in alle gevalle onaanvaarbaar en lei dit slegs tot groter pyn en verdere geweld.
Van ons vroue sal moet opstaan en wegloop uit ’n afbrekende en aggressiewe verhouding. Om vir ’n onmiddelike tydelike beskermingsbevel by ’n hof aansoek te gaan doen, is dikwels ’n eerste dapper tree na ’n beter lewe. Vra ’n kollega of iemand wat jy vertrou om jou by te staan.
Die mans en vroue in ons gemeenskappe sal egter moet opstaan en nee sê vir geweld teenoor vroue.
Ons moet sê: Nee, nie in my gemeenskap nie. Nee, nie in my vriendekring, of familie of in my straat of woonbuurt nie.
Ons moet opstaan teen die dooie liggame van kinders en jongmense en vroue wat in die veld gevind word. Ons moet ophou bang wees en fluister. Ons moet praat.