Deur Liesel le Roux
Bewerings van die intimidasie, teistering en verkragting van vroue oor ’n tydperk van dekades deur die invloed- ryke Amerikaanse rolprentvervaardiger Harvey Weinstein het die laaste paar weke wêreldwyd ’n belangrike bewustheid van die omvang van seksuele aanranding van vroue geskep.
Dit het beslis iets daarmee te doen gehad dat baie van die vroue wat Weinstein beskuldig het, beroemde aktrises is. Maar dit het ook te doen met die hutsmerk #MeToo.
Vroue, en later ook mans, het begin om in reaksie op die klagtes teen Weinstein op Twitter en Facebook te reageer met die woorde: “Ek ook.”
Van hulle het hul eie ervarings van seksuele teistering en aanranding gedeel. Dié reaksie was so groot dat min mense met ’n Twitter- of Facebook-rekening seker nie dié onthutsende woorde van ’n vriend of vriendin ontvang het nie.
Onder vroue wat na vore gekom het, is ’n kleindogter van Nelson Mandela asook die sanger Jennifer Ferguson, wat ’n bekende Suid-Afrikaanse sokkerbaas daarvan beskuldig dat hy haar verkrag het.
Die omvang van mense wat met #MeToo op die internet reageer het, is hartverskeurend en ontstellend.
Dit laat hopelik baie besef: Die seksuele teistering, aanranding en verkragting van vroue vind nie net iewers elders plaas nie. Dit is om jou – in jou gemeenskap. En veral dikwels waar jy dit nie verwag nie.
Jou vrou, dogter, suster, tannie, ouma, vriendin, werknemer of werkgewer was dalk ook al ’n slagoffer. En iemand wat jy baie goed ken, ’n vriend of familielid, die ou op die sportveld of die kollega by die werk, was dalk die teisteraar of verkragter.
’n Man moet weet: as hy met ’n vrou seksuele omgang wil hê, en sy sê nee, is dit nee. As hy aanhou, is dit verkragting.
En ja, ten spyte van die baie vroue wat na vore getree het met #MeToo, is daar steeds derduisende wat nie praat nie.