Die afgelope twee weke is daar in Die Hoorn ’n sterk fokus op ADHD geplaas. As plaaslike psigiater waardeer ek die bewusmaking van hierdie belangrike onderwerp.
Wat ek egter ietwat gemis het in die skrywe en beriggewing hieroor, was nuanse en balans – ouers en opvoeders kan moontlik hierdeur beïnvloed word tot sterk negatiewe denke teenoor toepaslike behandeling van ADHD.
As poging tot meer balans rondom hierdie onderwerp, voel ek dus genoodsaak om te respondeer op sekere van die stellings:
• Die kommer is uitgespreek oor die toename in die gebruik van stimulante as behandeling van ADHD. “Dit wek kommer dat al meer suksesvolle en vermoënde ouers se kinders die middels gebruik,” word genoem.
Hierop kan argumenteer word dat Suid-Afrika en ook Oudtshoorn ’n veel groter middelklas het as in die verlede, waarby toegang tot mediese fondse positief beïnvloed word. Die populasie wat van staatsgesondheidsdienste gebruik maak, word duidelik eerder onder-gediagnoseer en kry dus nie toegang tot hierdie belangrike medikasie vir ADHD nie.
• “In lande soos Japan, Thailand en China word die middels selde indien ooit gebruik.”
Navorsing toon dat daar ’n genetiese oorerwingskomponent van 74% is by ADHD. Dit kom voor met weinige geografiese of transkulturele variasie in prevalensie.
• “Dit is nie nodig dat kinders in kassies gedruk word en almal moet volpunte kry nie.”
Volpunte moet nooit die mikpunt wees wanneer kinders vir aandaggebrek, hiperaktiwiteit en/of impulsiwiteit behandel word nie. Daar is ’n hoë voorkoms van komorbiditeit by kinders met ADHD, dws bykomstige toestande soos gedragsversteuring (conduct disorder), gemoedsversteuring / depressie / obsessief-kompulsiewe steuring / epilepsie. ADHD op sy eie, of in komorbiditeit, veroorsaak dat ’n kind, tsv sy of haar IK, nie sy volle potensiaal akademies kan weergee nie. ADHD- medikasie kan egter slegs daartoe lei dat die kind nader aan die beste van sy/haar volle potensiaal in die akademie presteer, maar nooit hoër punte as waartoe sy volle IK in staat is nie.
• “Moet nie stadige ontwikkelaars as dom afskryf en hulle moed en selfbeeld lewenslank skade berokken nie.”
Dan is my vraag: Wat is die risiko’s van NIE die kinders met ’n diagnose van ADHD behandel nie:
• ADHD word gekenmerk deur hiperaktiwiteit, aandaggebrek en impulsiwiteit. Onbehandeld het dit soveel groter implikasies op die kind se moed, selfbeeld, satisfaksie, akademiese vordering, gedrag tuis en in die skool, familieverhoudinge. Impulsiwiteit by persone met ADHD het ’n invloed op risiko-gedrag bv seksuele gedrag (onbeplande swangerskappe, seksuele oordraagbare siektes) en bestuursvermoë (waarby motorfiets- en motor-ongelukke), alkohol- en middelverslawing.
• Die wetenskaplike navorsing toon deeglik dat daar ’n 100%-verhoogde voorkoms van alkohol- en middelverslawing asook persoonlikheidspatologie is by volwassenes wat as kind ADHD gehad het en geen behandeling ontvang het nie. Dit terwyl die volwassenes wat op hierdie medikasie as kind behandel was, beskerm is teen hierdie risiko’s – byna ekwivalent in voorkoms soos by volwassenes wat geen ADHD as kind gehad het nie.
• Die meerderheid van kinders by wie ek ’n volwaardige diagnose van ADHD gemaak het, is aanvanklik geïdentifiseer deur opvoeders wat die ouers aangemoedig het om ’n psigiater te nader oor simptome van impulsiwiteit, aandaggebrek en/of hiperaktiwiteit. Onderwysers se waarneming en opinie oor wat moontlik patologie/ abnormale gedrag in die kategorie van ADHD is, behoort volgens my dus tog ernstig opgeneem te word, ipv hulle ontmoedig om verder te dink wanneer hulle twyfel oor abnormale simptome by kinders.
Dus, vir balans en ter ondersteuning vir die gebruik van medikasie by ADHD, die volgende feite:
• ADHD word gekenmerk deur aandaggebrek, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit by kinders.
• Hierdie toestand kan in tot twee-derdes van gevalle steeds in volwassenheid inperkende simptome tot gevolg hê.
• Alle lewensareas word prominent negatief beïnvloed deur ADHD: akademiese, beroeps-, sosiale en familie-lewe.
• Navorsing en data het reeds deeglik bewys dat behandeling van ADHD met toepaslike medikasie in kombinasie met psigologiese, gedrags- en opvoedkundige intervensies opvallende verbetering in die kwaliteit van lewe by persone met hierdie toestand teweeg bring.
• Alleenlik sielkundige en opvoedkundige intervensies sonder medikasie gee nie voldoende verbetering van ADHD nie.
• 5% tot 10% van alle leerlinge in ons skole kan baat vind by toepaslike behandeling van aandaggebrek, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit wat inkorting in hul funksionering veroorsaak (by ’n psigiatriese steuring bv depressie wat onvoldoende respondeer op behande-ling, mag augmentasie toegevoeg word, soos tiroïed-preperate, litium, antipsi-gotikum, of middels soos die stimulante vir ADHD).
• Hierdie medikasie bly nie lank in die liggaam nie (enkele ure) en enige newe-effekte soos eetlusverlies of slaapsteuring stop sodra die medikasie gestaak word.
• Daar kan gedebatteer word dat middels wat prestasie in sport verbeter, ’n onredelike voordeel gee ten koste van andere wat “natuurlik” in sport probeer presteer. Dit teenoor middels vir ingekorte konsentrasie en/of hiperaktiwiteit / impulsiwiteit, wat geen beter akademiese prestasie gee as wat die kind se potensiaal toelaat nie, sonder dat sy/haar prestasie andere “uit die span hou”.
In akademie is daar geen reël wat sê daar mag geen 100% van leerlinge in ’n klas / skool slaag nie.
Hierdie inligting is geen aanval teen die artikels wat die afgelope twee weke in Die Hoorn gepubliseer is nie, maar uitsluitlik ten doel om balans te bring.
My professionele ervaring is dat ouers reeds oordrewe negatief is teenoor toepaslike medikasie vir ADHD en dat genoemde berigte en skrywe in Die Hoorn goeie bedoelings gehad het, maar die teikengroep (ouers en opvoeders) dalk nie duidelik genuanseerde inligting hieruit kon put nie.
– Dr Clifford van Wyk, Mediclinic Klein Karoo, Oudtshoorn