Deur Liesel le Roux
Daar word gesê dat dit baie makliker en baie vinniger is om iets af te breek as om iets op te bou.
Dink net hoe lank dit duur om ’n huis of voertuig of skool of lesinglokaal by ’n universiteit te bou, en hoe vinnig dit deur klippe en vlamme verwoes kan word.
Ons bou en breek ook so met ons woorde, dade en leefwyse hier op Oudtshoorn en in die Klein Karoo.
Iemand wat voortdurend krities is, oor alles en almal om hulle kla, foutvind, afbreek en ander aanval, se negatiwiteit is boonop aansteeklik. Dit is in elk geval nogal maklik om te kla en af te breek – jy hoef geen verantwoordelikheid te aanvaar vir probleme nie, jy hoef nie te help om probleme op te los nie en jy hoef geen planne te maak om dit reg te stel nie. Jy hoef nie eens te glimlag nie. En verseker sal jy vinnig ’n groep klaers om jou vergader – wat saam kan kla omdat die glas so halfleeg is.
Jy kan natuurlik ’n ander keuse maak; ’n keuse wat ook aansteeklik is maar ook vra dat jy nie op die kantlyn sit nie, maar betrokke raak.
Jy kan glimlag en ander (almal!) met respek behandel. Jy kan probleme en onreg identifiseer en aanspreek, en probeer planne maak om dié probleme op te los en te verbeter. Jy kan hard werk en eerlik en regverdig wees. En veral kan jy jou oë oopmaak en ervaar in watter mooi en veilige deel van die land jy woon, en jou halfvol glas daarop lig.
Die Oudtshoorn Besigheidskamer het met ’n inisiatief begin waarin hul inwoners vra om positief te raak in hul denke en optrede oor hul mooi dorp.
Dink bietjie: Gaan jy dit steun?