Deur Liesel le Roux
Die KKNK, wat vanjaar sy 24ste verjaardag op Oudtshoorn vier, is vir seker die hoogtepunt op die jaarlikse kalender van dié Klein Karoodorp.
Daar is geen ander gebeurtenis in die hele streek wat ’n dorp so ’n gedaanteverwisseling laat ondergaan soos die KKNK nie.
Daar is interessante syfers beskikbaar oor die invloed van die fees op die ekonomie van die dorp en trouens die hele Wes-Kaap.
In 2015, toe die KKNK sy 21ste verjaarsdag gevier het, het navorsing deur professore Jen Snowball en Geoff Antrobus van die Departement Ekonomie aan die Rhodes Universiteit die volgende syfers getoon:
• Die totale ekonomiese impak op Oudtshoorn volgens ’n formule wat spesiaal ontwikkel is vir kulturele geleenthede, was R64 693 485.
• Die ekonomiese impak van die fees op die Wes-Kaap is op tussen R170 en R188 miljoen geskat.
• Die KKNK dra volgens syfers 8,6% by tot die BGP (Bruto Geografiese Produk) van handel in Oudtshoorn.
• 98% van feesgangers was Suid-Afrikaners en 20% van Oudtshoorn. Die feesgangers van elders was hoofsaaklik uit die Wes-Kaap (53%), Oos-Kaap (16%) en Gauteng (14%), hoofsaaklik Afrikaanssprekend (83%) en 55% van feesgangers was wit, 37% bruin en 6% swart.
• 28% van feesgangers was 18 – 25 jaar oud, 22% was 26 – 35 jaar oud en 25% 36 -50 jaar oud. 72% van feesgangers het ’n naskoolse kwalifikasie (professioneel, graad of diploma) met 50% wat bestuurders of administrateurs was of ander professionele beroepe beklee.
• Die belangrikste redes waarom mense die fees besoek het, was – in orde van gewildheid – om te ontspan, vertonings by te woon, tyd met vriende en familie deur te bring, inkopies te doen en kunsuitstallings te besoek.
• Tydens die fees het die meeste feesgangers in die Rivierbuurt gekuier, terwyl vertonings waarvoor kaartjies gekoop word en die snuffelmark (stalletjies) ook baie gewild was.
• Terugvoer oor die fees, verblyf en kos was oor die algemeen baie goed of uitstekend.
• Besoekende feesgangers het sowat R2 048 by die fees spandeer en plaaslike inwoners R667 per persoon.
• Daar was gemiddeld 33 278 besoekers per dag op Oudtshoorn. Die gemiddelde tydperk wat besoekers hier gebly het, was 5,6 dae.
(Die 2015-studie is gedoen met behulp van 634 onderhoude en vraelyste aan feesgangers, en 102 vraelyste wat aanlyn deur die media en vervaardigers van produksies beantwoord is.)