Lesers se Briewe / Letters from Readers

4 Vullis

Ek het dié foto Maandagmiddag kort voor 16:00 geneem van een van twee onooglike hope huis- en tuinvullis wat sedert verlede Donderdag voor die hek van ’n huis in Victoriastraat gelê het.
Ek het mnr Lekay – hoof van vul­lisverwyderingsdienste by die Oudts­hoorn Munisipaliteit laatmiddag ge­skakel om dit te rapporteer waarop hy my vriendelik verseker het dat hy onmiddellik aandag daaraan sou skenk.

Hy het sy woord gehou, want toe ek skaars ’n uur later huis toe ry, was albei onooglike hope vullis verwyder en op­ge­ruim.

Ek wil hom graag bedank vir sy flinke en vriendelike aandag aan die saak.
Met sulke munisipale amptenare kan Oudtshoorn weer die netjiese dorp vir sy inwoners en duisende besoekers en toeriste word waarop ons graag wil roem.
– Nadia Botha, Oudtshoorn