DIE waarskynlikheid is groot dat die Groter Oudtshoorn ná die komende plaaslike raadsverkiesings op 1 November deur ’n koalisieregering van twee of meer politieke partye of groeperings beheer gaan word.
Dieselfde geld vir Kannaland, waar die ANC, DA en Icosa al digby twee dekades in die een of ander kombinasie (koalisie) regeer.
En soos die geskiedenis in talle munisipaliteite – ook hier in die Klein Karoo – telkens bewys het, is ’n koalisieregering nie eenvoudig nie en kan dit tot groot spanning in ’n munisipaliteit of dorp lei.
Koalisies lei dikwels daartoe dat die sogenaamde “stert die hond swaai” of tot wanregering kan lei. (Dit gebeur wanneer ’n klein party met relatief min steun in ruil vir belangrike poste soos dié van burgemeester, onder-burgemeester of speaker bereid is om saam met ’n party met meer steun te werk om so ’n meerderheid in die raad te kry.)
Toegegee, daar was al tye waar partye saam regeer het en daar vrede was. Vrede beteken die raad het tyd om te werk en daar is nie ontwrigting, onrus en sameswering nie.
Inwoners vra dikwels vir ’n skoon dorp, heel strate en werkskepping. Indien ’n raad en sy senior amptenare kan saamwerk om ’n vooruitstrewende dorp te skep (nie vooruitstrewende amptenare en raadslede nie), is die stryd na ’n skoon dorp, heel strate en werkskepping al halfpad gewen. Soos enige besigheid wat wil slaag, is eerlikheid en hardwerkendheid van diegene betrokke noodsaaklik, asook dinge soos streng beheer oor inkomste en uitgawes, en goeie diens. Dit sal mense en besighede lok wat in ’n dorp wil belê, wat op sy beurt tot werkskepping lei en fondse genereer vir die herstel en instandhouding van ’n dorp.
Moenie naïef wees en dink enigiemand sal in ’n dorp belê waar daar twyfel is oor die vemoë van die raad om die dorp te beheer nie. Vergeet van die opgradering van so ’n dorp, uitbreidings soos sakesentrums, werksgeleenthede, heel strate en ligte wat brand.
Daar is talle plattelandse dorpe noord van die Gariep wat in ’n kwessie van 10 tot 20 jaar verval het. Om die waarheid te sê, is daar klaar mense wat nie meer in Oudtshoorn wil belê nie.
Enigiemand wat ’n munisipaliteit sien as ’n melkkoei waaruit hulle net geld en werk of tenders kan kry, gee nie om vir die mense, veral die armstes, of toekoms van ’n dorp nie.
En enigiemand wat ’n raadslid word en nie besef hy of sy is as gevolg van dié posisie in diens van die mense wat hom/haar betaal nie, verstaan nie sy posomskrywing nie. Raadslede wat dink so ’n posisie maak hulle belangrik en gee hulle die reg om te maak en breek soos hulle wil, verstaan nie hulle werk nie. ’n Dorp het nie hoogmoediges, of egoïste of bakleiers nodig nie; nie luies of laatslapers of hofgedinge nie, want dit skep tweespalt en/of mors geld. Mag ons saam hoop dat ons dorp mense kry wat kan saamwerk en heel maak, wat kan luister en opbou.
Oudtshoorn sal nie nog vyf jaar van enige wanregering oorleef nie.
• In die Groter Oudtshoorn, wat Dysselsdorp en De Rust insluit, maak 13 uit altesame 25 raadslede ’n meerderheid uit om enige raadsbesluit goed te keur. In Kannaland maak vier uit altesame sewe raadslede ’n meerderheid uit.
Ons ervaar spesifiek op Oudtshoorn ’n moedeloosheid onder kiesers met baie mense wat sê hulle gaan nie stem nie.
Die realiteit is egter dat enigiemand wat dink hul stem in die verkiesing op 1 November is onbelangrik leef in ’n droomwêreld. Hulle sê die inwoners van ’n munisipaliteit kry die regering wat hulle verdien, omdat hul stemme – of afwesigheid van stemme – besluit wie verkies word.
– Liesel le Roux