Karoodorpe diefstalteiken?

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Dit is duidelik dat dorpe in die Karoo, Klein Karoo en ook die Tuinroete tans besliste teikens is van diefstal wat van buite die gebied georkestreer word – onder meer voertuigdiefstal.

Inwoners van die Klein Karoo het die laaste tyd onder verskeie sulke voorbeelde van diefstal van buite die gebied deurgeloop.

Daar was eerstens twee rooftogte op en naby die veilige Klein Karoodorpie Van Wyksdorp (op ’n plaas en by die Twaksak Supermark) en kort daarna die diefstal van ’n Isuzu-bakkie in De Rust.
Verlede week is drie Oos-Kaapse mans deur die polisie by Klaarstroom vasgetrek met “alle denkbare hulpmiddels wat vir inbrake en diefstal gebruik word” in hulle kar.

Die landelike gebiede om die dorpe in die Klein Karoo en Karoo word tans gestroop deur kabeldiewe met groot dele wat glad nie meer toegang tot Telkom-diens het as gevolg daarvan nie. In die Prins Albert-omgewing is die Prins Albertvallei-plaaswag as gevolg daarvan gestig met lede wat gereeld patrollie doen en per radio met mekaar verbinding hou.

Ook die diefstal van inwoners van Oudtshoorn se voertuig die naweek by die George Lughawe is waarskynlik van buite die streek georkestreer.

Inwoners van die Klein Karoo en Karoo woon in ’n relatief veilige deel van die land en is waarskynlik nie so voorbereid op diefstal en rooftogte soos in baie ander dele van Suid-Afrika nie.

Dit is belangrik dat ons moet kennis neem van hierdie sporadiese diefstal en rooftogte en sorg dat ons paraat en voorbereid is as so iets oor ons pad kom. Tien uit tien aan die Prins Albertvallei-plaaswag vir hulle inisiatief.