Ja vir samewerking, sensitiwiteit

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Dit is nie altyd wat jy doen nie, maar meer dikwels die manier waarop jy dinge doen wat bepaal of dit ’n positiewe uitwerking gaan hê.

Daarom is die protes teen plaas­moorde wat op Swart Maandag landwyd in Suid-Afrika plaasgevind het, so ’n komplekse kwessie.

Op Oudtshoorn was daar ’n aanvoel­bare gees van samehorigheid en dié protes is wyd as positief ervaar.
Ons is dankbaar vir dié Oudts­hoor­-niete wat dié seer onderwerp op ’n positiewe en sensitiewe wyse benader het. ’n John Deere-trekker met die prag­­­tige kleurvolle landsvlag wat wap­­­­per in die wind en die swart hem­de oral Maan­dagoggend by die taxi­-staanplek, sê iets van ’n gemeenskap wat wil saamstaan teen die sinloosheid van plaasmoorde.

Dit was ook bemoedigend om te hoor dat die enkeling wat by die pro­tes­optrede ’n ou Suid-Afrikaanse vlag wou uithaal, gou deur omstanders aangesê is om dit te gaan bêre.

Dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners besef: As jy verdelende simbole dra of uitdra by ’n openbare byeenkoms, pro­testeer jy nie. Jy skep verdeling.

En deur verdeling te saai, verhinder jy dat die inwoners van Suid-Afrika kan saamwerk om ernstige kwessies soos plaasmoorde – én al die ander moorde in die land – aan te spreek.

Want die bloeiende seer van moord gaan ook oor die weerlose liggame van kinders en jong vroue wat ver­-dwyn en later dood in die veld gevind word – dikwels seksueel aangerand of vermink. Dit gaan oor almal – kinders inkluis – wat sterf as gevolg van die groeiende bende­geweld in die Wes-Kaap, dit gaan oor gewone mense wat in hul slaapkamers en sitkamers in dorpe vermoor word.