In die warmstoel: Wanneer alles verander

3D render of an interior of a supermarket with empty shelves and Covid 19 virus cells

Dis winter en omtrent elke mens het ’n grieperigheid of ’n hoeserigheid of albei. Nou begin almal gis oor ’n nuwe soort Covid en ek sien al in my geestesoog hoe begin die mense weer baklei en stry oor inentings en ivermectin en toiletpapier by die pakke aankoop. Ek begin al skoon asem ophou om te oefen om weer ’n masker te dra.

Ek twyfel of die wêreld weer so histeries gaan raak en alles toesluit en mens by winkels net kos mag koop terwyl legkaarte en tennisballe en fietse en sigarette en drank taboe gaan wees.

As mens terugdink aan die dag toe Covid die land getref het, is dit werklik een van daardie Waar was jy-gebeurtenisse. Ek onthou ek en my vrou was in Stellenbosch vir een of ander ding en ek het pas ’n pizza bestel toe ek ’n boodskap op my foon kry “Daar’s ’n Covid-case in Oudtshoorn!”

Dit is vreemd hoe die wêreld skielik gaan stilstaan as so iets gebeur. Dit was die begin van die vreemdste tyd waarin ek nog ooit gelewe het, want niks was soos dit voorheen was nie. Toe raak die weke maande en die maande loop oor na die volgende jaar en die wêreld raak al meer deurmekaar en mense gaan dood en mense wat jarelank vriende en familie was, begin mekaar vermy, want een ent en die ander een weier om geënt te word en die drank- en sigaretsmouse glimlag al die pad bank toe. Ek weet van een kennis wat met die inkomste van onwettige drankverkope ’n hele vleuel aan sy huis aangebou het. ’n Ander een het ’n nuwe motor gekoop – dit was totale gekheid.

Soos wat ons maar is, pas ons egter gou aan en bly die skrikwekkende nie lank skrikwekkend nie. Daardie tyd was ’n ingrypende tyd van veranderinge vir die hele wêreld, maar stadigaan het ons weer ons voete gevind, ʼn klomp nuwe oorlewingsmeganismes aangeleer, opgestaan en effens anders voortgegaan.

Ek dink vroeg vanoggend daaraan dat ons eintlik elke dag deur een of ander “Covid”-gebeurtenis gekonfronteer word. As iemand onverwags sterf, of ’n beroerte kry, of in ’n ernstige ongeluk betrokke is, is die verandering en ontwrigting en gevoel van onwerklikheid onmiddelik en dan moet ons planne maak om aan te gaan.

Gelukkig is ons aanpasbaar en in ons wese planmakers en, belangrikste van alles, is dat ons selde alleen staan. Ek gaan nou eers in die kar se paneelkissie kyk of daar nog ’n pakkie van daai blou maskertjies is – net vir ingeval. (HANNES VISSER)