Deur Johan Strasheim
New York, 21 Julie 1995. Vandag gaan ons London toe.
Die hotel in Manhattan is naby Central Park en ook maar oud met daardie tipiese muwwerige reuk so eie aan baie ou hotelle.
Ons is vroeg op en tasse gepak. Ons familiebesoek aan die VSA en die wonderwêreld van die Empire Stategebou, Arlington-begraafplaas en Disneyworld is op ’n einde. Ons moet nou terug na ons eie land met sy eie stel reuke, biltong, braaivleis, sonskyn – en natuurlik die rugbywêreldbeker.
Ek is opgewonde om vandag te vlieg. Vandag is ’n groot dag, want ons gesin vlieg Concorde. Dis ’n droom wat waar word vir my.
Dis nog donker, maar ons wag al gedwee in die straat voor die hotel vir ons “limo” wat ek bestel het. Daar is geen manier wat ons vandag ons vlug kan mis nie. Ons bondel in die “limo” in op pad JFK-lughawe toe en die drywer vra soos gewoonlik so half oor sy skouer deur die glasskerm “Yeah, where to sir?”
“JFK airport please,” wat begroet word met ’n “Which terminal sir?”
Ek hou my “pose” en antwoord ewe nonchalant “Concorde”. Die een woord sê alles. Ek sien hoe sy houding verander en hy kyk my stip aan in sy truspieëltjie. Dis nie sommer almal wat Concorde vlieg nie. Intussen is ek so opgewonde soos ’n klein seuntjie.
Toe ons voor die deur by die Concorde-terminaal stilhou, is daar ’n “proper” ou butler met spierwitgrys hare, “top hat & tails”, verskriklike blink skoene én wit handskoene wat by sy elegante liggrys uitrusting pas. Hy pluk die deur oop, staan terug en groet met ’n reuse glimlag en eg Britse “G’mornin’ suh. Welcome to Concorde”. Ons groet beleefd en mik maar soos gewone mense sou vir die kattebak waar ons tasse is. Die “butler” onderskep die poging ewe professioneel en hy stuur ons in die rigting van die groot skuifdeur met ’n “Don’ worry suh, we’ll take care of that suh. Please go and make ye’selves a’home.”
Wanneer jy die Concorde-vertreksaal ingaan, voel jy behoorlik soos ’n “rock star”. Jy verwag enige oomblik vir Mick Jagger om by die deur in te stap.
Ons kyk opgewonde rond en verwonder ons aan alles. Ons is eerste daar en het derhalwe die plek vir onsself vir ’n rukkie. Die buffeteetgoed is indrukwekkend – bessies uit Suid-Amerika en joghurt uit Frankryk, ham uit Skotland, plaaslike varsgebakte brood en vars vrugte uit al die uithoeke van die aarde. Fantasties en indrukwekkend – behoorlik 7-ster.
Wat voel soos ’n ewigheid later sit ons op die vliegtuig en kyk in bedeesde verwondering na alles. Dit is ’n nou vliegtuig – net vier sitplekke langs mekaar met ’n gangetjie tussenin. Die binnekant is besonder mooi afgewerk. Duidelik die beste van die beste.
Die Britse kaptein kom aan die woord en vertel ons dat ons ná opstyging sal uitdraai see toe en dat ons eers deur die klankgrens sal breek oor die see. Ons neem in. Ná die gebruiklike “push back” begin alles gebeur en is ons uiteindelik op die aanloopbaan. Ek kyk uit oor die groot deltavlerke terwyl ons op die aanloopbaan af versnel en opstyg. Die uitklim is onverwags steil.
Nie lank nie of die kaptein kom aan die woord en lig ons in dat ons nou supersonies is. Mach 1, en dit neem toe. Daar is so ’n klein skermpie waarop die hoogte en spoed vertoon word. Uiteindelik sit ons op Mach 2 en 60000 voet bo seevlak in luukse gemak. Die hemelruim is letterlik donker – byna swart – want ons is so te sê op die randjie van die atmosfeer. Intussen word ons met die stylvolste vyfgang-ontbyt bedien – op fyn porselyn en in elegante kristalglasies. Gedurende die vlug kon jy na die kajuit gaan en met die bemanning gesels en hulle vir jou ’n sertifikaat laat onderteken om te bevestig dat jy Concorde gevlieg het.
Ek lewe ’n droom.
In ’n stadium wil ek opstaan en foto’s neem. (Dit was voor die dae van selfone met kameras.) Niemand anders doen dit nie en almal sit maar rustig en lees en rondkyk. Ek is maar onseker want niemand neem fotos nie. Ek druk deur. Ek neem fotos van alles soos ’n opperste “Tommy the tourist”. Nie lank nie, of daar is ’n paar ander mense wat dit ook doen. Wys jou.
Te gou begin ons met die daling na London Heathrow lughawe en die Concorde sak op die aanloopbaan neer in sy unieke geknakte houding op eindnadering. Opstyg tot landing was presies 3 ure en 9 minute. Dit is ’n vlug wat normaalweg meer as 7 ure neem. Dit was net te gou verby.
Die beleefde kajuitpersoneel van BA groet ons baie vriendelik en ons word in die terminaalgebou weer in die malende massa gewone reisigers opgesuig en ons “rock star” status kom eensklaps tot ’n einde.
Al wat sorg dat dit meer as ’n droom is, is die Concorde-etiket aan my handbagasie wat ek natuurlik ewe trots net daar los.
Hulle het gesê die Concorde vlieg so hoog dat jy die ronding van die aarde kan sien.
Hulle was reg – dit is inderdaad so.
“Hulle” praat nie altyd twak nie.