Deur Liesel le Roux
Inwoners van Oudtshoorn het die afgelope week ervaar hoe maklik fopnuus op sosiale media versprei kan word, en hoe maklik vrees en spanning deur vals bewerings aangejaag kan word. Ons verwys na ’n bewering op Facebook oor ’n amperse ontvoering op die dorp wat die polisie na ondevraging bevind het nie waar was nie.
Die les hieruit is: wees versigtig om alles te glo wat jy hoor of lees. Maak seker jou bron is betroubaar voordat jy glo wat jy lees of hoor.
Deesdae kan enigiemand blitsvinnig ’n boodskap skryf – oor WhatsApp, twitter en facebook, en het jy met jou vinger op die selfoon nou die “mag” om jou storie aan ’n groter gehoor te versprei.
En dis hier waar dinge lelik skeefloop en waarom platforms soos Facebook en Twitter dikwels onaangename plekke word.
Eienskappe soos eerlikheid, verantwoordelikheid, goeie maniere en respek vlieg by die deur uit as die vinger begin tik. Leuens word versprei, mense sê mekaar sleg, breek mekaar af, dikwels met die versko-ning dat hulle “net eerlik is”, “net foute uitwys”, “net ’n ding op sy naam noem” of selfs “veg vir die waarheid”. Party mense raak slawe van belediging en kan nie meer anders reageer as om iemand of iets te soek om te blameer nie.
Die prentjie van die mensdom op sosiale media is dikwels nie ’n mooi een nie.