Elkeen geraak deur dié droogte

Deur Liesel le Roux

Daar is ’n wanpersepsie in ons land dat die goeie reën in Kaapstad en omgewing die droogte in die suide van die land beëindig het. Dit is beslis nie waar nie.

Dit mag beter gaan in en om Kaapstad, maar in die Klein Karoo heers ’n vernietigende droogte wat dié landstreek aan sy strot beet het.

Elke inwoner van die streek moet dit besef en hul deel bydrae; al is dit net om oral waar hulle kan, water te bespaar.
Oudtshoorn en die Klein Karoo het nog tot voor die winter op hoop vir reën gefunksioneer, maar nou laat die gebrek aan genoegsame reën in die winterreënvaltyd dié mooi deel van ons land wankel.

Damme en riviere wat die landbou moet voed, is leeg of bykans leeg. Oudtshoorn se drinkwaterdam staan net bo 30% met droogtetariewe wat inwoners verder gaan wurg.

Dié winter is nie nat soos die Wes-Kaap se winters veronderstel is om te wees nie, maar stofdroog, soos ’n boer vandeesweek aan Die Hoorn gesê het.

En dit was boonop vreemd warm die afgelope meer as ’n week. En die sneeu lê nie op die berge en smelt en loop af tot in die damme nie.

Die invloed van die vernietigende droogte in die Klein Karoo raak nie net die boere op plase nie.

Dit raak uiteraard ook die plaas­werkers en besighede wat van die landbou afhanklik is, maar op ’n dorp soos Oudtshoorn en die ander dorpe in die streek raak dit uiteindelik almal. Wanneer een sektor begin swaarkry, syfer daardie swaarkry deur en kring dit uit na ander besighede en bedrywe en families soos die kringe op ’n dam nadat jy ’n klippie daarin gegooi het.

Minder brandstof word ingegooi, minder voertuie en werktuie aange­koop. Skielik is daar minder werk. Minder kos. Finansiële nood. Besighede sluit.

Die landbou was nog altyd een van die fondamente van Oudtshoorn se ekonomie. In ’n erge droogte soos hier­die – volgens sommige die ergste die afgelope eeu – raak dit almal. Ons is almal saam in die moeilikheid.