Die Hoorn by kruispad

Deur Liesel le Roux

Die Hoorn het by ’n kruispad gekom en belangrike besluite sal oor die volgende aantal maande oor die toekoms van die koerant geneem moet word.

Ons (die huidige eienaars Schalk en Liesel le Roux) het ’n stadium in ons lewens bereik waar ons waarskynlik nie meer vir lank kans sal sien dat die koerant weekliks afhanklik is van ons insette nie, maw as ons nie hier is nie, verskyn Die Hoorn nie.

Die Hoorn is egter nog ’n lewensvatbare besigheid wat winsgewend bedryf kan word
Die verskillende opsies vir ons, is:

• Om die koerant as besigheid te verkoop, wat nie maklik gaan wees nie, want die vaardighede wat nodig is om ’n koerant te bedryf, is nie algemeen nie;
• Om die regte vennote te kry of om een of twee ervare koerantmense aan te stel met die oog daarop dat hulle die koerant in die volgende jaar of drie toenemend onafhanklik van ons kan bedryf; of
• Om die gedrukte weergawe van die koerant te staak en dan daarop te fokus om die beste koerantwebblad in die Suid-Kaap en wyer te bedryf.

Benewens begrip van ’n koerant se sakemodel, is verskeie kundighede en vaardighede nodig om ’n gemeenskapskoerant soos Die Hoorn sukses­vol te bedryf. Dit sluit in joerna­listieke en bladuitlegvaardighede, ken­nis van die advertensiewese, grafiese ontwerp en bemarking. Dan moet ’n mens ook bereid wees om hard te werk.

Wat vir seker waar is, is dat dit by tye baie opwindend is om ’n koerant uit te gee en te bedryf. ’n Mens moet egter ook soms hare op jou tande hê!

Enigeen wat belangstel om Die Hoorn te koop of weet van iemand wat dit sal wil doen, of op een of ander manier betrokke wil raak, is welkom om Schalk le Roux te kontak by info@hoorn.co.za of by sel 083 458 9015.

Enige raad is ook welkom.