Briewe van Lesers: Die doodsklokke lui vir die VF Plus in Oudtshoorn?

Die Vryheidsfront Plus se skokkende verwerping van samewerking met die DA en hulle in die bed spring met die ANC in die munisipaliteit van Oudtshoorn, het sekerlik die doodsklokke vir hierdie manteldraaiers aan die lui gesit.

Voor die Munisipale verkiesing in November 2021 het die VF+ openlik verklaar kiesers moet vir hulle stem want hulle gaan met die DA saamwerk.

’n Stem vir hulle is dus net so goed soos ’n stem vir die DA. Eintlik beter want hulle sal die ANC beter op hulle plek kan hou as die DA. Kiesers het dit geglo en gedink hulle maak beheer en bestuur van die DA en ander kleiner samewerkende partytjies, sterker. Hulle het toe in Oudtshoorn 2 546 stemme gekry en drie raadslede. Daarmee help hulle toe die DA om in koalisie die regering in Oudtshoorn te vorm.

Dit was ’n goeie besluit want volgens die ouditeur- generaal in 2019, bestuur die DA van die top twintig munisipaliteite in Suid Afrika, sestien en die ANC vier. Verder beheer die ANC in die twintig swakste bestuurde munisipaliteite, al twintig. Verder was die tye wat die ANC Oudtshoorn bestuur het katastrofies soos almal weet.

Die kiesers het egter gou hulle vertroue in die VF+ verloor en besef hulle heil lê in ’n sterker DA om die ANC te opponeer. Dit is bewys toe daar in die Nasionale stemming in Mei 2024 van die 2 546 VF+ kiesers, slegs 1 314 in Oudtshoorn vir die VF+ gestem het. ’n Verlies van ongeveer die helfte van sy stemme. Van die 1 207 wat in wyk twee VF+ gestem het, het daar in 2024 slegs 311 weer vir hulle gestem.

Nou in Julie 2024 gaan die VF+ egter en stel hulle eie belange vir posisies bokant die belange van die mense van Oudtshoorn. Hulle gaan heul met die ANC om van ’n DA beheerde koalisie ontslae te raak deur vir die ANC te sê as ons die burgermeesterposisie kan hê, sal ons vir julle stem om die beherende vennoot te wees in ’n nuwe koalisie.

En daar gaan verraai die VF+ hulle onderneming aan die kiesers en plaas die swakste en korrupste party in die geskiedenis van Suid Afrika weer aan beheer in Oudtshoorn met ’n troosprysie dat hulle nou die burgermeesterposisie het. En die bewese party wat munisipaliteite die beste in die land bestuur, moet nou in die opposisiebanke sit en hulpeloos toekyk hoe Oudtshoorn weer deur die modder gesleep word. Gaan Oudtshoorn se kiesers die VF+ ooit kan vergewe dat hulle hul kiesers se vertroue verruil het vir ’n pot Lensiesop.

Ek hoor die doodsklokke lui vir hierdie onbetroubare vennoot in die bestuur van ons dorp. ’n Dorp wat soveel potensiaal het, maar elke keer deur die verkeerde besluite van kiesers ondergeploeg word. Hopelik het die VF+ kiesers se oë nou oopgegaan. – Leon Coetzee

Antwoord op brief van Leon Coetzee

Beste Leon,
Ek het jou brief met belangstelling gelees. Die hoe-veelheid byvoeglike naamwoorde en leuens daarin is opvallend. Dit spreek van totale oningeligtheid en grens aan histerie.

Die inhoud van die brief en die leuens daarin is nie eie aan jou nie en neem ek aan dat jy ongelukkig toegelaat het dat die DA jou naam misbruik om hulle brief daaronder te publiseer.
Kom ons kyk na die feite:

  1. Die VF Plus het nie samewerking met die DA verwerp nie. Dit is gemeensaak dat die DA uit die koukus gestap en die koalisie-ooreenkoms verbreek het.
  2. Dit is ook gemeensaak dat die DA burgemeester daarna die ANC genader het vir steun om sy begro-ting deur te stem nadat al die partye in die koalisie hom meegedeel het dat hulle nie vir die begroting gaan stem nie en dat aanpassings daaraan nodig is. Dit was tipies die werkswyse van die vorige burgemeester wat sy vennote in die koalisie deurentyd geminag het.
  3. Al die koalisievennote het op ’n vergadering met die DA in Mosselbaai versoek dat die DA ’n ander burgemeester nomineer en dat hulle vir hom sou stem. Me. Zille het geweier en gesê dat niemand vir die DA sal voorskryf wie sy kandidaat moet wees nie. Die ander vennote het aangedui dat hulle nie voorskryf nie en dat die DA geregtig is om ’n ander kandidaat van hulle keuse te nomineer.
  4. Die DA se optrede het tot gevolg gehad dat Oudts-hoorn sonder ’n munisipale regering sou wees as die VF Plus nie onmiddellik ingegryp het nie. Die VF Plus het die inisiatief geneem en al nege partye in die Oudtshoorn Raad, insluitend die DA, genooi na ’n vergadering om ’n Regering van Plaaslike Eenheid (RPE) saam te stel wat uit al die partye bestaan. Die DA het nie opgedaag nie en het die ander partye ooreengekom om ’n nuwe regering saam te stel. Die DA het homself dus onttrek en weier nou om deel te wees van die regering in Oudtshoorn. Hulle is soos die stout kind wat in ’n hoekie gaan sit.
  5. Dit is dus ’n verdraaiing van die waarheid om die narratief te probeer skep dat die VF Plus saam met die ANC “in die bed gespring het.” Al die deelnemende partye is deel van die nuwe regering en nie net die VF Plus en die ANC nie. Oudtshoorn se kiesers het gestem en het geen party ’n meerderheid nie. Die DA het slegs 7 setels uit 25. Niemand kan alleen regeer nie en is die nuwe RPE eintlik die enigste opsie soos op nasionale vlak gebeur het.
  6. Jou opmerking dat Oudtshoorn “deur die verkeerde besluite van kiesers ondergeploeg word” is uiters onvanpas en ’n refleksie op die reg van kiesers om te stem vir wie hulle wil. Die kiesers sal hulle nie laat voorskryf vir wie om te stem nie, veral nie vir ’n party wat hulle intelligensie onderskat en as dom beskou nie.


Dit is onverklaarbaar wat die DA se plan met munisipaliteite in die Wes-Kaap is en waarom werkende koalisies met die VF Plus een na die ander omgedop word. Die eerste was George, daarna Tuinroete Distriksmunisipaliteit, toe Oudtshoorn en verlede week ook Langeberg. Mens kan nie help om te wonder wie volgende gaan wees en wat die rede hierdie keer gaan wees nie.

Die vermoede bestaan dat die DA se arrogansie en ego dit nie kon hanteer dat die VF Plus deel was van 11 werkende munisipaliteite uit 19 waar die DA saam met die VF Plus regeer het nie. Die DA wil alleen regeer en laat nie toe dat ’n koalisievennoot ’n effektiewe oorsigrol speel en skoon regering verseker nie.

Ten slotte hoef die DA nie bekommerd te wees oor die VF Plus se steun nie. Die VF Plus sal in Oudtshoorn verseker dat die beste belange van die dorp gedien word en dat kiesers vir die party sal stem omdat hy gaan bewys dat hy saam met die nuwe RPE ’n beter dorp gaan bou as wat deur die DA agtergelaat en in die steek gelaat is. – Johan Allers, VF Plus, Oudtshoorn