
Dricus du Plessis se nou beroemde slag- spreuk het my laat terugdink aan twee vliegervarings in die Mosambiek lugruim jare terug. Gary was een van die beroepsjagters in ons span en sit langs my in die Aerostar op pad terug Mosambiek toe. Ons gesels oor alles en nog wat op pad tussen Polokwane en die Aeroporto International da Beira, m.a.w. Beira lughawe. Namate die vlug vorder, raak die weer al slegter en net oor die grens is dit heeltemal bewolk, maar die wolke is ’n entjie onder ons – maar die wolkplafon raak al hoër. Nie lank nie en ons sit in die wolke en alles buite die vensters is spierwit. Al hoe jy weet wat aangaan en waar bo- en onder is, is die klomp instrumente voor my.
Dit is in sigself nie ’n probleem nie want die vliegtuig is goed toegerus daarvoor en ek is ten volle gekwalifiseer om in sulke toestande te mag vlieg, m.a.w. waar jy uitsluitlik aangewese is op jou instrumente en geen visuele verwysings buite die vliegtuig het nie. Om in sulke toestande te mag vlieg, moet jy egter ’n paar spesiale goedjies op jou vlugplan aanbring, veral as jy weet jy gaan ’n instrumentnadering moet doen by die bestemming. Jy vermy dit maar as jy kan want dit behels tipies ’n ekstra klomp rompslomp om by die aankoms-lughawe in te skakel en uiteindelik te land.
Ons luister maar uit op die radio en bevestig die weer onder die wolke by Beira is goed, die wolkbasis hoog genoeg en die sigbaarheid goed. Jou ore raak oor die jare baie goed om sulke inligting op te tel, al sit jy en gesels.
Na ’n wyle vra ek Beira se beheertoring om my daling te begin en die standaard is dat jy ’n hoogte kry tot waar jy mag daal – of – jy moet die aanloopbaan kan sien, oftewel “field in sight”. Ek druk die Aerostar se neus af en ons daal teen ’n gemaklike 500 voet per minuut. Toe ons so dui-send voet bo die wolkbasis is, begin die wolke stadigaan opbreek en ek roep Beira se toring en bevestig dat “Zulu Sierra Pappa Delta November has the field in sight”. Hy gee my dadelik die instruksie “PDN, join on a long final for runway 12”. Dis natuurlik wat ek wou hoor.
Gary sit stip voor hom en uitkyk vir so rukkie, draai na my toe en vra “Waar de m**r sien jy die lughawe?” Ek glimlag en sê “Ek kan hom nie sien nie, maar ons sal hom nou-nou sien. Gee kans.
Gelukkig weet ek presies waar ons is. Die ou in die toring weet nie wat ons weet nie.” Hy lag, sit terug in sy sitplek en skud net sy kop en gee my nog ’n paar onpubliseerbare “komplemente”.
Die weer in Mosambiek raak soms baie sleg en digte mis in die oggende is veral ’n probleem – veral wanneer jy kliënte moet terugkry in Johannesburg om die aand ’n vlug te vang Amerika toe.
Een oggend in September moet Gert en ek beide terug met passasiers uit die kamp uit. Na wat voel soos ’n ewigheid is die mis darem so dat ons net-net kan opstyg en koers kies Beira toe. Gert met sy Aerostar ZS-NNV styg eerste op en ek is so 5 minute agter hom. Ons vlieg baie laag want die weer is maar baie sleg. Gelukkig is die kusvlakte en die Zambezi delta so plat soos ’n pannekoek, sonder kragdrade, maste en ander soortgelyke hindernisse en dit maak dit baie veilig. So 15 minute van Beira af, hoor ek hy roep Beira se lugverkeerbeheer. Die dame in die toring groet vriendelik en sê “Zulu Sierra November November Victor, Beira is QBI. State your intentions.” Dit beteken die lughawe is toe weens slegte weer – mis – en die sigbaarheid te laag om selfs ’n instrumentnadering te doen. Tegnies moet jy nou uitwyk na ’n alternatiewe bestemming.
Maar gelukkig weet hulle nie wat ons weet nie, en Gert antwoord ewe nonchalant … “Beira, we’ll follow the coastline and call you field in sight for runway 30”. Die eindelose spierwit kuslyn tussen die donker water en donker bosse is maklik om te volg en die kuslyn is naby aan die lughawe. Op die regte plek draai jy rustig regs na regs in, reguit op aanloopbaan 30 af. Die aanloopbaanligte help natuurlik ook baie. Dit was nou ’n slim plan en baie vinnig dink. Die dame antwoord ewe rustig “OK, call field in sight.” Net in Afrika …
Ek lag kliphard en my passasiers vra my wat nou so snaaks is. Die klomp stres maar so bietjie in die marginale weer. Ek sê ek sal verduidelik as ons op die grond is. Ek roep die toring en versoek dieselfde roete in, wat sy sonder versuim goedkeur. Ons land sonder drama, doen al die hope roetine papierwerk en neem brandstof in sodat die mense betyds op die vliegtuig kan wees Atlanta toe vanaand.
En om te dink daar is manne wat met pakke klere aan wat in ’n reuse oopplan kantoor sit in die middel van Johannesburg wat nie eers weet of die son buite skyn nie! (Deur Johan Strasheim)