Briewe van lesers

Gesukkel by De Jager Sportkompleks

Ons is besoekers aan Oudtshoorn en ek probeer ’n paar weke gelede ’n muurbalbaan kry vir die kinders.

Ons word ingelig dis onmoontlik, die bane by die De Jager Sportkompleks is volgepak van aktiwiteite omdat daar die naweek ’n skopboks-kompetisie is.

Maandagmiddag ry ek soontoe om ’n baan te gaan bespreek – die deur staan oop, ligte brand, maar niemand maak die sekuriteitshek oop nie. Daar is ook geen klokkie nie.

Dinsdagoggend bel ek van 08:30 af, al om die 15 minute, maar kry geen antwoord nie – nie by die munisipaliteit se hoofskakelbord of die Sportkompleks nie. Naby 11:00 (skat ek) kom ek deur na A by

Gemeenskapsdiens. Ek vra haar wat aangaan dat niemand die fone antwoord nie en hoe mens ’n baan kan bespreek. Sy onderneem om te gaan kyk en vra my nommer. Ek gee my nommer, maar sê as daar geen reaksie gaan wees nie, gaan ek koerant toe. Sy sê ek moet dan maar so maak as ek so voel.

Vyf minute later bel B van die Sport­kompleks my. Ek vra hom wat daar aangaan dat mens nie gehelp word nie. Hy gee die foon vir C wat verduidelik die bane is vol goed. Ek vra om met sy hoof te praat en hy gee dadelik die foon vir D. Hy vra my R30,40 om die ligte aan te skakel op die baan. Hy sê ek kan die middag ’n baan kry, maar nie later as 15:30 nie, want dan moet hy laat bly.

Ek wys hom daarop dat die kompleks hope stoorplek het, maar hy ryg een verskoning na die ander uit. Ek sê toe nee wat, kanselleer alles, ek stel nie belang nie. ’n Ouer wie se kind betrok-ke was by die skopbokskampioenskap vertel my die oggend van die kompetisie het hulle nog geskarrel om die saal reg te kry en op te ruim.

Net iets oor die NA Smit Swembad: Ons is ingelig ons kan nie swem nie, want die water word voorberei vir ’n groot swemgala, maar as ek omkom daar kan ons iets uitwerk…

Ek’s bevrees Oudtshoorn gaan teen rasse skrede agteruit. Ek praat nie eens van die vuil strate en riviere nie.
– Anonieme oud-inwoner

Oor pensioene vir onderwysers

Na aanleiding van die berig “Onderwysers vra vir pensioen” die volgende:

Ek en my vrou is albei afgetrede blan­ke onderwysers. Aan die einde van 1969 moes sy bedank omdat ons eers­teling op pad was.

Toe ons tweede kind skool toe gegaan het, kon sy vir baie jare nie ’n permanente pos kry nie. Dié jare van “on probation” was nie-pensioendraend.

In 1995 kon ek ’n sogenaamde goue handdruk kry indien ek vrywillig bedank. Na ernstige gebed het ek die leiding ontvang om vir sewe jaar, deur die genade van Bo, vas te byt tot ouderdom 60.

Die rampspoedige uitkomsgeba­seerde stelsel en afskaffing van Bybelse tugtiging het verhoed dat ek kon aanbly tot 65. Dit sou die ideaal gewees het aangesien die aantal diensjare en opleiding jou pensioen bepaal.

Van opleiding gepraat; ek het al ge­hoor van mense wat destyds onderwys begin gee het net na graad 10 of 12 en baie het na twee jaar kollege-opleiding die onderwys betree. Diegene kan nie ver­wag om dieselfde pensioen te kry as mense wat langer opleiding het nie.
– Oud-onderwyser, Oudtshoorn

Oppie Spoor – regstelling

As regsverteenwoordiger van Oppie-Spoor is ek met opdrag om namens hulle ’n regstelling te maak aangaande ’n wanpersepsie wat bestaan en wyd en syd verkondig word.

Die stories is in nuusblaaie opgehaal en selfs oor die radio en, aangesien daar sommige persone is wat nie suksevol was nie, word die skyn gewek dat O­p­pie Spoor oneerlik sake doen en mense bedrieg.

’n Lys uitbetalings wat gemaak is vanaf 15 Januarie 2019 tot 5 Maart 2019 is aan my voorgelê en beloop die bedrag van R4 943 902,45. Die grootste enkele bedrag wat uitbetaal is, was R900 000. Dus, vir al die doemprofete en ongelukkiges is daar ook heelwat mense wat dankbaar is teenoor Oppie Spoor vir hulle hulp.

Dié skrywe dien beslis nie as voorspraak vir die maatskappy nie, maar dit is beslis nie ’n geval van meer vrae as antwoorde nie. Daar is reeds sake aanhangig gemaak en eise word ingestel teen persone wat die maatskappy be­swadder. Daar is reeds oor die eter verskoning gevra en miskien sal dit be­- langrik wees om eers seker te maak van feite alvorens lasterlike stories versprei word.
-Johan Wagener, Oudtshoorn