Briewe van lesers

Moenie laat die kind in jou saam met jou oud word nie

Mense lag glo minder soos hulle ouer word. Die lagplooitjies by ’n vrou dui daarop dat sy humor geniet, so sy moenie elke oggend polifilla aansmeer nie!

Die jare toe die sosiale afstand op die KKNK nog 1,5 millimeter was, was daar tyd vir humor terwyl jy teen ’n slakkepas beweeg.

So stap ek met ’n Matie-kêp op in die gedrang. ’n Student kom van voor met die opmerking: “Maties, nê!” Ja, sê ek, “nou nog eerste jaar”.

Soos dit ’n skerp jong man betaam, is sy antwoord: “Dan het oom darem erg gesukkel op skool.”

Een dag ontmoet ek ’n vriend langs die pad nadat ek ná ’n dag van stof en sweet uit die veld terugkom. Ek sê dat ek nie reg aangetrek is vir die vergade-ring en hy merk op: “Jy is ’n gelukkige man. Jy sal nooit so oud word soos jy lyk nie (Afrikaanse uitdrukkings word so afgeskeep dat ons dit dalk moet aanpas).

Dis nie meer ’n feit soos ’n koei nie, want sy is leeg gemelk, ook nie ’n paal bo water nie – die water is op. Dan maar ’n vlagpaal bo die horison.

Meer van toepassing vandag: Ek meneer en jy meneer, wie sal dan die wawiel smeer. Die mond van ’n dronk mens praat die waarheid. Politici gee dus nugter antwoorde. Daar is altyd ’n ongeluk, net nie by Eskom nie.

Humor en spreekwoorde loop partykeer hand-aan-hand, maar is hulle nog relevant?

Net so min as wat die Skim, Tarzan en die Tokkelossie bestaan, so min bestaan rassisme, daar is net een mens-spesie/ras.

Toe ons nog wild was, was die mens ’n spesie. Nou dat ons mak geword het, is ons ’n ras, maar net een.
• Minister van kultuursake het vandag gesê witmense moet hulle kinders leer om nie rassisties te wees nie!
– Katot Meyer.