Hoe nou gemaak?
Toe die oorle Nasionale Party in 1948 aan bewind gekom het, was Suid-Afrika nog ’n jongeling. Soos ons as mensekinders ook maar dikwels in daardie stadium van ons lewens is, was die land (leiers) onseker oor wat die toekoms sou inhou. Tyd bring egter gewoonlik ervaring en kort voor lank was ons geliefde land doelgerig op koers.
Te midde van hier en daar ’n ligte verskilletjie, was daar goeie samewerking. Oom Paul het mos gesê: “Eendracht maakt macht.”
In die bestek van 45 jaar is Suid-Afrika ontwik-kel in ’n gerekende land wat tuis was in die gesel-skap van wêreldlande. Nywerhede is ontwikkel, paaie en spoorlyne is gebou en in stand gehou. Damme is gebou, hoewel te groot volgens die huidige regering – dis dié dat hul knaend nie vol genoeg is nie!
Staatsdepartemente was meestal funksioneel. Treine, vliegtuie en vergaderings was stiptelik betyds.
Krygkor is weens wapenboikotte gestig en ont-wikkel tot ’n nywerheid van wêreldgehalte; in so ’n mate dat ons ’n verskaffer van uitstaande wapentuig aan baie lande geword het. Waar is Denel vandag?
Dit het die huidige regering net 28 jaar geneem om Suid-Afrika tot in die grond in te verwoes. Die redes is algemeen bekend.
Die begin van die nuwe Suid-Afrika was onverwags goed. Die president was ’n bekwame mens; ’n wonderwerk. Ná 27 jaar as gevangene was hy steeds gematigd en sonder haat teenoor diegene wat hom veroordeel het. Dink net hoe sou ons land vandag gelyk het indien sy opvolgers net ’n bietjie van sy karakter en visie kon hê.
Magsbeheptheid en geldsug het egter sy ideale vernietig. Staatskaping, nepotisme en onbevoegd-heid het die land se koffers verwoes.
Toe kom Covid-19 en skep die ideale geleent-heid om die laaste krummels in die koffers op te slurp. Die geld wat bedoel was vir hulp aan die armstes van die armes, beland in die bodemlose sakke van topamptenare en kaders. Waarheen is ons op pad?
Hier plaaslik gaan dit nie veel beter nie. Die munisipale raad is volgens berigte, as ek dit reg lees, ook maar besig met struwelinge onder mekaar. Dit wil vir my voorkom of koalisiepolitiek nie bedoel is om die gewenste resultate te lewer nie. Hoekom moet alles polities gedrewe wees?
Dit is so dat daar nie een party is wat sterk genoeg is om ’n meerderheid te vorm nie. If you can’t beat them, join them – maar ons sien mos dit werk geensins nie.
Daar is tans ’n baie insiggewende program op RSG: My mooi dorp. Wil die raad nie maar asseblief net in die plek van één raadsvergadering na die potgooi van dié briljante program luister, dit rustig bespreek en oorweging daaraan skenk om Oudtshoorn, ons mooi dorp, op ’n herstelpad te plaas nie? Ek pleit namens die meerderheid inwoners: asseblief, red ons dorp. Sterkte!
– Pieter Oudtshoorn
Beste nuus in jare!
Die beste nuus in baie jare is die aankondiging deur die burgemeester van die Tuinroete Distrikmunisipaliteit, Memory Booysen, dat hulle betrokke gaan raak by behuising vir die middel- inkomstegroep deur middel van die regering se FLISP-program.
Inwoners met ’n inkomste tussen R3500 en R22000 kwalifiseer om finansieel deur die rege-ring gehelp te word indien hulle suksesvol ’n verband kan bekom vir die aankoop van ’n huis of erf.
Ongelukkig beskik Oudtshoorn nie oor huise in die prysklas wat die mense kan bekostig nie, en kon hulle tot nou toe nie die voordeel as eerste huiskopers benut nie.
Persoonlik het ek al vele pogings die afgelope jare aangewend om die raad sover te kry om hierdie mense aan die hand te vat en met ’n “gap”-behuisingsprojek te begin. Daar was egter nie so ’n politieke wil nie en moes hierdie mense aan die agterspeen suig.
As konsultant werk ek elke dag met hierdie mense en kon ek saam met hulle hul frustrasies deel. Ek is selfs bewus van mense wat suksesvol dmv hierdie projek huise op George bekom het.
Ek lees in die burgemeester se mededelings dat die provinsie se grond aangewend gaan word en behoort dit die proses te bespoedig.
Behalwe die feit dat dié groepering dié positiewe vooruitsig het, sal dit ook die munisipaliteit se geldkoffers vul met meer eiendomsbelasting wat ingevorder kan word.
Ek wil al die eerste huiskopers wat kwalifiseer en saam met wie ek oor die jare frustasies gedeel het, verseker van my opgewondenheid. Ek sal voortgaan om met raadsheer Booysen asook ons eie burgemeester gesprek te voer om ’n sukses-volle geïntegreerde residensiële woonbuurt in ’n goeie area gevestig te kry.
– Japie Coetzee, Oudtshoorn