Geluk aan die nuwe raadslede
Eerstens baie geluk aan al die nuwe raadslede; ek bedoel natuurlik diegene wat nog nie vantevore op die raad was nie – raadslede van alle partye.
Vir diegene wat twee weke gelede my brief in Die Hoorn gelees het, onthou wat ek gesê het: Julle weet niks, ja, niks nie.
Julle is nou direkteure en die besluitnemers van ’n multimiljoenrand- maatskappy wat julle niks van weet nie. Wow! Dis gevaarlik.
Graag sal ek die volgende uit my persoonlike ondervinding as oud-raadslid van Oudtshoorn met julle wil deel: Moenie julle laat voorsê en lei deur die ou raadslede in koukusvergaderings nie.
Indien julle verskil, noem dit. Daar is dalk ander wat saamstem. Onthou, die koukus is ook demokraties.
Maak seker dat die aanbevelings van die party waaraan jy behoort, werklik van hulle af kom en nie van iemand kom met ’n geheime agenda nie.
Daar is geld en lenings beskikbaar uit verskeie oorde vir munisipaliteite. Raak bewus daarvan en koppel dit aan moontlike projekte.
Woon komiteevergaderings by en bly op hoogte van sake en gebeure asook besluite.
Besoek ook terreine waar dinge plaasvind.
Kom op hoogte van alle munisipale regulasies en stelsels.
Wat ek nou gesê het, is ’n mondvol en baie werk, maar om ’n raadslid te wees is harde werk.
Weer eens: Sterkte en onthou julle is direkteure, maar die belastingbetalers is aandeelhouers en julle moet verantwoording doen aan hulle. Groete. En sterkte!
– Pieter Retief, Oudtshoorn
Leiding, respek, samewerking kan nuwe raad laat werk
Ek hoop dat die nuwe burgemeester en munisipale bestuurder in belang van dienslewering en vooruitgang van ons dorp, Oudtshoorn, dit hierdie keer kan regkry om saam te werk.
Dit vereis ’n munisipale bestuurder wat die amptenare kan motiveer om net hul beste te gee en produktief te wees.
Net so vereis dit van die burgemeester om saam met die speaker lei-ding aan raadslede te gee en seker te maak dat hulle nie inmeng in die administrasie nie, maar seker te maak dat projekte op die IDP* verskyn.
Indien die munisipale bestuurder as hoof van die administrasie en burgemeester as hoof van die politieke been elkeen hulle bepaal by hul onderskeie gebiede, behoort dit baie beter te gaan as in die verlede.
Dit sal ook baie help as die speaker die inhoud van Skedule 1 in die Stel-selswet met die raadslede behandel. Dit behoort hulle te help om te verstaan dat jy nie kan maak en breek soos jy wil nie.
Daar moet hard gewerk word om ’n professionele atmosfeer by die munisipaliteit te skep. Wedersydse respek hiermee saam kan ons help om die slegte geskiedenis in die verlede te laat. Indien nie, sal die voorblaaie van ons koerante dieselfde as in die verlede wees.
As kiesers sal ons biddend bly vir ons raadslede en amptenare dat hulle in harmonie met mekaar kan saamwerk .
– Liefdevolle mens, Oudtshoorn
Die IDP is ’n dorp of stad se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (Integrated Development Plan), waarin die dorp se toekoms oor die kort-, medium- en langtermyn uiteengesit word.
Wanneer gaan daar ’n raad wees wat vir inwoners werk?
Gaan diegene wat tot raadslede verkies is in die onderskeie wyke, uiteindelik hulle ego’s opsy skuif en ophou baklei onder mekaar ?
Die inwoners van die dorp is tog die belangrikste. Die dorp se vooruitgang kan nie bepaal word deur strydende partye nie.
Gaan die raadsittings maar voortgaan, soos in die verlede, al strydende oor mag, of gaan die raad toesien dat die munisipaliteit soos ’n goed geoliede masjien die gemeenskappe bedien?
Dis skandalig hoe die inwoners voor die trein gegooi word deur raadslede wat net hul eie belang voorrang laat geniet.
Dit is my ondervinding die afgelope agt jaar. Elke keer as daar ’n raadsitting was, moes mens in die koerant lees oor die onderonsies gedurende die sittings.
Wanneer sal daar ’n raad wees wat vir die dorp en sy inwoners werk?
Oudtshoorn kan een van die beste, mooiste dorpe wees, indien raadslede die voorbeeld stel, vertroue inboesem en die inwoners begeester om van Oudtshoorn ’n modeldorp te maak; ’n dorp waarop alle inwoners trots kan wees.
Mag ek kla, het ek gestem? Ek kla nie, ek vra. Miskien, net miskien, oortuig die raad my om volgende keer wel te stem.
-John Emmerich , Oudtshoorn