Van der Riet- en Hoogstraat: Plante wat sig versper, U-draaie en vragmotors wat nie hul draai kry nie…
Die probleemkruising by Baron van Reede- en van der Rietstraat op Oudts-hoorn is weer eens in die nuus en selfs op die voorblad van Die Hoorn. Nou kan ’n mens maar net hoop iemand by die verkeersdepartement sien die berig en doen iets daaraan, soos om in ’n voertuig te klim en in Van der Rietstraat in die rigting van Baron van Reedestraat te ry.
Indien jy binne die wit strepe bly, sal jy vind dat die uitsig, veral na regs, belemmer word deur plante wat by ’n boom geplant is. Indien jy ’n beter uitsig wil hê, moet jy tot buite die wit strepe beweeg wat uit die aard van die saak gevaarlik en onwettig is.
Na links sal dit kort voor lank ook die geval wees indien daar nie weer ’n botsing plaasvind wat die (onnodige)
plantbedding totaal verwoes nie. Ek koop nie die storie dat daar nie ’n verkeerslig mag kom nie. Hoekom mag daar dan laer af in die straat drie verkeersligte wees?
Die tweede onding in Oudtshoorn is die U-draaie wat heel rustig in Hoogstraat gemaak word, ondanks ’n verkeersteken by FNB wat dit verbied.
Die derde doring in die vlees is “interlink”-vragmotors wat by Cashbuild links draai in Hoogstraat en dan verwag van motoriste om terug te stoot sodat hulle ’n buitengewone wye draai kan maak. Hoe arrogant! As ek reg onthou, was daar altyd ’n verkeersteken hoër op in Voortrekkerweg wat draai na links in Hoogstraat verbied. Swaar voertuie behoort by die munisipale kantore se verkeerslig links te draai indien hul met Langenhovenweg na George wil ry.
Kan ek ’n vriendelike maar baie erns-tige beroep op die hoof van verkeer doen om aandag aan hierdie probleme te skenk. Indien daar nog tyd en mannekrag oor is, kan daar gerus ook met die jaagduiwels in hul opgewarmde Golfies met breë bande, raserige uitlaatstelsels (en klankstelsels) ’n plan gemaak word. Groot asseblief. Los maar die taxis, hul val mos in ’n kategorie van hul eie!
– Pieter, Oudtshoorn
Rakende munisipale dienste
Dit is met skok dat ek verneem van die beplande stygings in munisipale dienste wat die inflasiekoers oorskry.
Geliewe op die volgende te let:
- Bejaardes se rente-inkomste daal met bykans 40%.
- Mieliemeel en kookolie styg sedert September 2020 met onderskeidelik 16% en 20% (Die Burger).
- Gastehuie wat buitelandse toeriste huisves, is tot stilstand gedwing – talle werknemers is tans sonder inkomste.
- Boere se inkomste daal met 40% as gevolg van die droogte en werkers word afgelê.
My pleidooi: Hersien die beplande munisipale tariewe maar vorder addisionele inkomste deur: - Oortyd-betalings te beheer;
- Onwettige aanbouings te belas;
- Advertensieborde te ondersoek en tariewe daar te stel;
- Bedrywe vanaf huise te evalueer en tariewe te hef;
- Gelde te verhaal van skuldiges rakende vrugtelose uitgawes asook verkwisting;
- Oorde se verliese aan te spreek met ’n oplosbare plan;
- Toe te sien dat alle eiendomme geregistreer op die databasis verskyn en belas word;
- Kontrole oor musipale voertuie – Tracker-stelsel;
- Aanstelling van direkteure finansies en tegnies.
- Dat die gastebedryf / boere en instansies wat hoofsaaklik buitelanders bedien, tegemoet gekom word deur middel van afslag op munisipale tariewe.
My pleidooi mag dalk op dowe ore val, maar die kiesers sal op 27 Oktober 2021 die finale seggenskap hê.
– HJJ Lamprecht, Oudtshoorn