Briewe van lesers

’n Regverdige samelewing

In my skrywe (15 November) is die fo­kus geplaas op beheerliggame van vorige Model C-skole se ooglopende weiering om onderwysers van alle kulture aan te stel.

Gerda Swart, ’n beheerraad-voorsitter, gee hierop ’n baie kriptiese een-sin-antwoord: Dat alle aanstellings op me­riete geskied.

Hiermee dwing sy ’n mens om tussen die lyne te lees. Bevestig sy die vals naratief dat onderwysers met ander velpigmentasie minder kompetent is? Voel sy gemaklik dat die onwaarheid maar in ons kinders se ontwikkelende breine psigologies vasgelê word?

Voorbeelde van die gevolge van ­hier­die indoktrinasie:

• ’n Wit laerskoolleerder vra oor die enigste swart onderwyseres op skool: “Is she a real teacher?”

• ’n Bruin leerder van ’n soortgelyke skool moes ’n afspraak by ’n tandarts kry, maar versoek: “Tog net nie ’n bruin tandarts nie!”

• ’n Briljante bruin opvoeder (wis­kunde en wetenskappe) met twee grade en dekades ervaring in die onderwys, vlekkelose rekord, beland op die kort-lys van ’n vorige Model C-skool in ons streek. Hier was slegs wit personeel, maar uiteindelik word weer eens ’n jong, wit, pas gegradueerde onderwy­seres in die bevorderingspos aangestel (meriete?).

Ek moes al ’n mediese spesialis op George gaan korrigeer omdat hy, ten spyte van die pasiënt se versoek om na my verwys te word, die pasiënt probeer oortuig het dat psigiaters in George beter gekwalifiseerd is (onwaar en rassevooroordeel).

Op videokameras van ’n DVD-win­kel is ’n insident vasgelê waarby ’n jong wit meisie, op die oog af skoolgaan­de, my bestelling neem, dit een­kant sit en een ná die ander wit kliënte help. In ’n stadium vra ek haar of sy dan vergeet het van my bestelling, maar sy gaan onverpoos voort met diens aan wit kliënte wat eers lank ná die tyd op-gedaag het. Op grond van videobewyse is sy skuldig bevind nadat ek ’n klag gaan lê het.

Wat betref die arrogante, lasterlike brief van mnr Wagener (22 November): Hy beweer verkeerdelik dat ek my verlekker in die feit dat David Pratt vir Verwoerd in die gesig verwond het. Ek verlekker my nooit in enigiemand wat verwond is nie, daarvoor is ek te volwasse.

Ek beywer my vir ’n harmo­nieuse, nie-rasgebaseerde, regverdige samele-wing met eenheid in ons diversiteit.

In koerante het ek my ondub­bel­sinnig uitgespreek teenoor die rassistiese onregverdigheid toe ’n swart gene­raal wit SAPD

Akademielede in ’n rasse-insident verneder het; die DA se stilswye oor die onregverdigheid van die munisipaliteit se toepassing van ge­lyke indiensneming, die onregver­digheid van skoolbeheerrade. Reg­ver­digheid, reg-verdigheid ongeag ras.

Wagener beskuldig my van rassisme terwyl hy van beter behoort te weet – sal ek ’n regsgeleerde nader vir leiding rondom my regte?
– Clifford van Wyk, Oudtshoorn

Stop tog met die emmers

Ek rig dié skrywe aan die Oudtshoorn Munisipaliteit en ek doen ’n dringende beroep op hulle om die volgende in heroorweging te neem:

Staak asseblief nou dadelik die natgooi van tuine en bome deur inwoners met emmers, want daar is persone wat emmers en emmers water tap om hul tuine aan die lewe te hou.

My vraag is nog steeds – as ons nie goeie reëns gaan kry nie en die damme loop leeg, waar gaan die water vandaan kom?

Kyk byvoorbeeld na die krisis in Beaufort-Wes.

Die enigste water wat ek op my bome gebruik, is water wat ek opvang in my stort.
– Stephanie Fourie, Oudtshoorn

So verniel die mens die planeet

Die mens is besig om die planeet aarde te verniel met sy onaanvaarbaar hoë bevolkingsgroei.

Oor 30 jaar kan daar ongeveer nege miljard mense wees. Ons sit op ’n tydbom, ’n menslike tsunami. Ontsaglike groot getalle babas word jaarliks gebore. Hoe lank kan die nodige hulpbronne die getalle hanteer?

Die land en al wat ’n staatsinstelling is, is ban­krot. Elke onbeplande nuwe geboorte kan nadelige gevolge vir die ekonomie hê. Die bevolkingsaanwas oorskry werkskepping. Werkloosheid is amper 30 persent.

10 miljoen mense is werkloos en sal waarskynlik nooit werk kry nie.

Suid-Afrika is alreeds ’n welsynstaat. Welsyns-toelaes, veral kindertoelaes, is heeltemal buite beheer. Kinders word betaal om kinders te hê.

Die grootste oorsaak van armoede en ellende is juis die geweldige aanwas, veral onder die laer inkomstegroepe. Die sleutel tot welvaart begin tog by kleiner gesinne.

Sien die regering en politieke partye die dinge raak, of bly hulle maar liewer stil ter wille van ’n kruisie by die stembus?

Die noodsaaklikheid en verantwoordelikheid van behoorlike gesinsbeplanning sal moet aangespreek word. Jy kan nie selfstandigheid bevorder deur die swakkeling lewenslank te probeer regop hou nie.
– Albert Schoeman, De Rust