Meer inligting omtrent Pauline Smith
In Die Hoorn van Donderdag, 27 April, het ’n artikel verskyn: “Strate sinoniem met Oudtshoorn”.
In die artikel is onder andere verwys na ou geboue in Oudtshoorn en wie dit bewoon het. So is daarin vermeld dat Pauline Smith saam met haar goewernante in die ou gevangenisgebou gewoon het en dat sy die skrywer was van die boek, Story of an African farm.
Net ’n regstelling; die boek is deur Olive Schneider (1855-1920), ’n dogter van ’n sendeling in Suid-Afrika, geskryf.
Die boek het in die laat jare tagtig van die vorige een verskyn. Die huis waarin sy in Cradock gewoon het, is vandag ’n museum. Om terug te keer tot Pauline Smith. As skrywer het sy self ’n paar boeke op haar kerfstok, waarvan The Little Karoo, ten stories by Pauline Smith – haar eerste en bekendste boek is, eerste publikasie 1925. Smith was ’n Engelse skryfster, gebore 2 April 1883 in Oudtshoorn, oorlede 1959 in Surrey, Groot Brittanje. Haar pa was die eerste Londonse mediese dokter in die Klein Karoo. Die boek, The Little Karoo, ten stories by Pauline Smith, is verkeie kere herdruk. Dit bevat tien stories, elk in eie tema oor veral mense en gebeure in en rondom Oudtshoorn.
Terloops, Oudtshoorn het ’n straat wat na Pauline Smith vernoem is. Kan iemand van die groep, Heritage Oudtshoorn Erfenis, dalk vir ons lesers meer inligting hieroor verskaf?
– Espie
Verkeersligte
Ek en my vrou word beskou as “bejaardes.”
Ons is beslis nie meer vlugvoetig nie, veral my vrou wat nog ’n rugprobleem ook het.
Ek maak op twee maniere gebruik van verkeersligte.
1. Per voertuig en
2. Te voet.
Beide is soms ’n groot irritasie.
1. Die verkeersligte in Oudtshoorn is nie gesinchroniseer nie.
Dit gebeur dikwels dat ek in Voortrekkerweg in ’n Westelike rigting ry.
Wanneer ek normaal bestuur, word ek deur elke verkeerslig gestop tot groot frustasie en wat nog van die brandstofverbruik?
Ek sien dikwels dat mense met hul voertuie jaag, van baan tot baan vleg en gereeld die volgende verkeerslig/kruising oorgaan teen ’n “rooi lig”.
Al die gevalle is lewensgevaarlik.
Ek het vir ’n paar jaar in Mosselbaai gewoon. Daar is etlike verkeersligte wat voorrang gee aan die hoofroete.
Ek sal probeer verduidelik. Ek het al by verskeie verkeersligte hier in Oudtshoorn moes stop terwyl daar geen voertuig vanaf die systraat voor my die pad kruis nie.
Tyd, brandstof en frustrasie.
Voetgangers kruis die strate sonder dat die verkeerslig in ag geneem word.
Dit is asof niemand weet wanneer hul mag kruis of nie, of is dit slegs moedswilligheid?
2. Ek het reeds genoem dat ek nie meer vlugvoetig is nie maar ek neem waar dat die teken vir voetgangers, groen en rooi lig in die vorm van ‘n persoon wat aandui wanneer ’n persoon mag loop of nie bo-aan die verkeerslig, so vinnig van groen na rooi oorskakel, dat ek glo selfs min jongmense betyds oor die straat sal kom voor dit oorskakel.
Weereens, mense hardloop oor die straat…risiko.
Persoonlik sou ek wou vra dat munisipale wetstoepassers by besige kruisings, voetgangers, lede van die publiek, moet aanspreek, wel meer om hulle te leer, oor die korrekte wyse hoe om strate veilig en korrek te kruis.
Dit sal seker te veel gevra wees om verkeers-ligte te sinchroniseer of hoe?
Ek ontmoet ‘n persoon ‘n dag of wat gelede. Hy het 10% sig en sukkel om oor ‘n kruising te kom.
Hy vee met sy hande oor die paal van die verkeerslig.
Ek besef dat hy die knoppie soek wat byvoorbeeld in Worcester vir die blindes aangebring is ten einde hulle behulpsaam te wees om veilig te kan kruis.
Ek besef dat die uitgawe sekerlik nie moontlik is ten einde een of twee mense te kan help nie maar dit maak ‘n mens dink.
– Jan Loubser
Trots op jou dorp
Ek sien geen trots in my dorp.
Ek sien slaggate in elke pad.
Vullis lê oral rond.
Sypaadjies is oorgroei.
Meestal ook ongelyk, sleg,
met bossies en gras orals.
Parkies so verwaarloos.
Stormwaterpype verstop.
Waterpype wat alewig bars.
Motoriste wat padreëls afslag.
Riviere deur die dorp, eens trots,
oorgroei met riete, papiere, bottels,
plastiek, soos ’n ashoop.
Wat dink besoekers van ons dorp?
Miskien lag hulle agteraf vir ons.
Party probeer sypaadjies red,
met plante teen die muur geplant,
of plaveisel ingesit, op eie koste.
Dit is die mense met trots.
Diegene wat in hul woongebied
tog ’n verskil wil maak, moet ligloop,
dat hulle nie met trots ’n wet verbreek.
Sou die hooggeplaastes en ander
daar geplaas deur die ondergeskiktes,
ooit werklik afklim en vermoei,
om te kyk hoe hul dorp uitbloei.
Of gee hulle nie werklik om, hoe dit lyk.
Hoe dit buite jou huis lyk,
is hoe dit binne jou huis blyk.
Kon trots maar na die dorp terugkeer,
sou die mense weer die stadsvaders vereer.
– John Emmerich