Briewe van lesers: 14 September 2023

Kom ons kyk eerder na die positief

Ek stem saam met twee vorige skrywers in Die Hoorn dat ons dorp se toestand nie baie goed lyk nie, maar ek wil darem ook ’n paar positiewe dinge uitlig.

Ons het so 50 jaar gelede ons hier kom vestig. Ons het vir ons drie kinders goeie opvoeding laat kry. Ons skole sowel as ons sportgeriewe is van die beste in die provinsie. Vir die munisipaliteit wil ek darem ook in die bresse tree – hulle is besig om ons dorp reg te ruk.

Middelmannetjies in die hoofstrate se dooie gras is vervang met vetplante en klippe, so eie aan ons dorp. Ten spyte van alle tekortkominge, stroom toeriste hierheen vir ons besienswaardighede en hulle spandeer geld aan verblyf, kos en petrol, om maar ’n paar op te noem.

Ons mediese dienste is van die beste: hospitale, klinieke, dokters en verpleegsters is goed opgelei, behulpsaam en vriendelik.

Kom ons verander negatief na positief en sê dankie vir die straatwerkers. Hulle sal ’n bottel coke baie waardeer!

Een van die dae is ons “Dorp van die Jaar”.

O, ja, en dit is bewys – ons het die skoonste lug!

Hier sal ons bly en hier wil ek begrawe word.
– Mona Britnell

Wat is die beoogde eindspel?

Terwyl ek in beginsel die aksie ondersteun dat tariewe verlaag moet word, het ek tog sekere voorbehoude.

In die Groter Oudtshoorn word 49% (met ‘n verwagte 50% vir die 2023/2024 jaar) van die huishoudings ten volle gesubsidieer met deernis-subsidies. Die koste van hierdie sg. gratis dienste word enersyds deur DoRA van die Tesourie ge- finansier en andersyds deur die betalende 50-51%, aangesien daar volgens ’n begroting ‘n tekort van R77 miljoen is tussen die koste van die dienste vir subsidieerde huishoudings en DoRA.

Indien die tariewe vir vullisverwydering en sa-nitasie verminder word, is dit vir my logies dat daardie tekort van R77 miljoen vergroot gaan word, want die betaler se bydrae verminder.

Hoe gaan die tekort gefinansier of bestuur word? Aan die getal munisipale werkers en hul salarisse kan ons as betalende inwoners nie raak nie, dis ‘n arbeidswetgewing- en vakbondaangeleentheid. Gaan diegene wat dan gesubsidieer word beperkte dienste ontvang wat in ooreenstemming is met die finansies terwyl die betalende 50% hul volle dienste ontvang?

En wat is dan die gevolg? Dat die huidige koalisie uit die kussings gelig word aangesien hulle nie dienste kan verskaf nie (alhoewel dit eintlik geensins ’n politiese aangeleentheid is nie. Eerder ‘n finansiële aangeleentheid met die munisipale administrasie)?

Kom die volgende koalisie in die leiersposisie? Die geld/inkomste vir die dienste bly egter steeds minder as die onkoste – so hoe gaan die opvolgers die finansiële tekort bestuur?

Hulle sal beslis nie die tariewe dienooreenkomstig kan verhoog nie, want dit is dan waaroor die protesaksie gaan, en hopelik sal daar dieselfde as die huidige protesaksie wees.

Skaakmat.
– Nettie Hough

Die uitvoerende burgemeester reageer as volg:
Beste Me. Hough, baie dankie vir u insae in die kompleksiteit en uitdagings van tariefverhogings wat u in u brief deel. U is korrek dat dit glad nie ’n eenvoudige kwessie is nie.

As ek politieke punte wou verdien, sou ek seer sekerlik die tariewe so laag as moontlik wou hou en dan eenvoudig onttrek as die dienste totaal in duie stort. Daar is talle sulke voorbeelde van munisipaliteite wat “populêre” begrotings opstel en waar rommelhope vir maande lê, riool in strate afloop en water ondrinkbaar is.

Ek voel saam met elke inwoner die geweldige impak van staatskaping en korrupsie wat munisipaliteite landwyd lamlê.

Ons het geweldige uitdagings en u brief gee ’n realistiese blik op ’n uiters sensitiewe kwessie.
– Chris Macpherson

Hoe gemaak met die stortingsterrein?

Na aanleiding van die waarnemende burgemeester se reaksie op die protesoptrede van 1 September 2023 soos berig in Die Hoorn van 7 September 2023.

Die publiek stel mnr Macpherson se stelling dat hy geen onwettige aktiwiteite sal duld nie hoog op prys.

Ons sal graag by hom wil hoor wat hy gaan doen aan die stortingsterrein wat aan geen omgewings of ander wetlike vereistes voldoen nie.

Die huishoudelike afval word daagliks aan die brand gesteek op die terrein en geen mens kan die stank van brandende plastiek wat saans oor die woonbuurte hang hanteer nie.

Ons neem aan dat hy geregtelike stappe teen die direkteur van gemeenskapsdieste gaan instel vir sy wanbestuur van die stortingsterrein.
– J.A. Visser

Die uitvoerende burgemeester reageer as volg:
Baie dankie vir u skrywe. Dit is belangrik om te weet dat die bestuur van stortingsterreine aan streng wetlike vereistes onderwerp word.

Soveel so dat ’n munisipale bestuurder in die Oos-Kaap onlangs tronkstraf opgelê is vir die wanbestuur van ’n stortingsterrein.

Oudtshoorn munisipaliteit het ’n nuwe kontrakteur aangestel wat die terrein behartig en alle onwettige plakkers op die terrein is meer as ’n maand gelede verwyder.

Die verantwoordelike terreinbestuurder lewer op gereelde basis aan my en die raad verslae oor die stortingsterrein.

Sedertdien was daar nog net een geval van haweloses wat teen die heining van die stortings-terrein vuur gemaak het.

Dit was onmiddellik aangespreek.

Ek versoek lede van die publiek om my kantoor dadelik te kontak indien daar enige brande of reuke op die terrein voorkom.
– Chris Macpherson