Wens vir Kannaland
My wens vir die Kannaland Munispaliteit vir 2018 is dat die haglike paaie gou herstel sal word; dat persone wat die munisipaliteit in so ’n benarde finansiële posisie gekry het, gou vasgevat sal word; dat die Valke gou hul ondersoek sal voltooi en dat die skuldiges swaar gestraf sal word; en dat persone wat onder moontlike bedenklike omstandighede aangestel is, hul poste sal ontruim.
– J Williams, Kannaland
Positiewe samewerking
Aanvanklik het ek nie daaraan gedink om hierdie brief te skryf nie. Die Redakteursbrief in Die Hoorn van 21 Desember 2017 onder die opskrif: “Oppas vir sulke verlammende negatiwiteit”, veral die laaste twee paragrawe, het my aangespoor.
Op 30 September 2017 het ek ’n sakelys saamgestel en dit aan die raads-lid van Wyk 2 en die munisipale bestuurder vir oorweging en bespreking, gestuur. Die sakelys het min of meer die algemene klagtes/griewe van Oudtshoorn se belastingbetalers bevat. Kortliks het dit gehandel oor onbeantwoorde korrespondensie, ’n klagtekantoor, swak gehalte werk, onproduktiewe aanwending van personeel, hoë eiendombelasting en so meer.
Binne een week is terugvoering van die kantoor van die munisipale be- stuurder gekry. Daar is bevestig dat ’n vergadering gereël gaan word. Hierna het ek my punte vir bespreking op die sakelys gemotiveer en aangestuur. Die datum van 6 Desember 2017 is gedagboek en die oggend om 10:00 uur is ek en Johann Kriek deur die munisipale bestuurder en drie amptenare te woord gestaan.
Die groot verrassing was toe ons agterkom dat die punte op ons sakelys aanvullend gebruik is tot dit wat die munisipale bestuurder en amptenare vir 2018 in die vooruitsig stel en wil vermag.
Ek gaan nie die munisipale bestuurder en amptenare se planne met dit wat hulle vir die nuwe jaar beoog, vooruit loop nie, maar wil net noem dat dit wat bespreek is, ’n mens opgewonde maak. Veral die daarstelling van ’n ‘klagtekantoor’ wat sal help dat inwoners se korrespondensie aandag geniet en vordering maklik nagespoor kan word.
Tot ons versoek dat die R7 000 per jaar maksimum verdienste vir pensioentrekkers om in aanmerking te kom vir verminderde eiendomsbelasting, hoër aangepas gaan word. (Baie pensioentrekkers het my in die verlede in die straat hieroor voorgekeer en amper gesmeek dat ek dit met die munisipaliteit moet opneem, want hulle word “uit hul huise belas”.)
Ons inwoners moet steeds in gedagte hou dat die huidige raad en munisipale bestuurder ’n bankrotspul van die vorige bestuur onder ANC-beheer oorgeneem het. Ons moet derhalwe geduldig wees.
Ter afsluiting wil ek verwys na die munisipale bestuurder se persoonlike assistent, Suerhete Fransman. Sy het van die begin tot die einde die reëlings vir ons vergadering op ’n bedrewe en professionele wyse getref soos ons ouer geslag hieraan gewoond is.
– Bart Vosloo, Oudtshoorn