Beheerliggame en outonomie
Die outonomie van skoolbeheerliggame word bedreig deur die voorgestelde aanpassings tot die Suid-Afrikaanse Skolewet.
Dat die aanstelling van bevorderingsposte uit die hande van skoolbeheerliggame geneem sal word, is die grootste bekommernis vir JC Klopper van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU).
Hul sorge behels volgens my ooglopend die vorige model C-skole. Die vraag behoort te wees: Wat het dié beheerliggame dan gedoen met hul ou-tonomie die afgelope meer as 20 jaar? Hoewel ons leerders by hierdie skole die normale demografie van ons plaaslike samelewing weerspieël, sit ons ongelukkig vandag nog in Oudtshoorn met elke nuwe personeellid-aanstelling by hierdie skole as slegs nog ’n jong, wit aanstelling. Dit is ooglopend ’n georkestreerde, oneerbare, disharmonieuse praktyk in die naam van skoolbeheerliggaam-outonomie.
Die sielkundig ongesonde nagevolge van hierdie agenda is dat die ontwikkelende breine van bruin en swart leerders vanaf ’n jong ouderdom so onderbewustelik gekondisioneer word dat professionaliteit geassossieer word met ’n sekere velkleur. Ook die wit leerders is blootgestel aan hierdie valse, maar nie noodwendig doelbewuste nie, psigologiese kondisionering.
By navraag blyk dit dat die beamptes van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement ook teleurgesteld is oor en gekant is teen hierdie praktyke. Hulle val egter gou terug op die outonomie van beheerliggame as verskoning vir ’n byna leliewit personeelkorps, terwyl ’n normale demografie onder leerders geld.
Die swakkerige verwyt is dat “ouers nie opdaag by die verkiesings van beheerliggame van hierdie skole nie”.
Hierdie stelling suggereer dat bruin en swart ouers uiteindelik op rasse-basis moet mobiliseer om ’n normale weerspieëling van die personeelkorps te bewerkstellig: volgens my ’n baie gevaarlike suggestie en ’n bedreiging vir ons harmonie, gegewe die verdere rassepolarisasie wat dit vir ons brose gemeenskap inhou.
Die oplossing lê nie in ’n kwota-stelsel nie. In die strewe na ’n inklusiwiteit moet onregverdige en onredelike demonisering van die huidige wit perso-neel by ons skole ook geensins geduld word nie – hulle is nie verantwoordelik vir die situasie nie, is professioneel en doen hul bes om in ’n kultureel diverse leerlingsamestelling te funksioneer. Die oplossing lê daarin dat beheerliggame dringend bloot baie meer sensitief, eerbaar, opreg en geloofwaardig-inklusief moet optree by die aanstelling van nuwe personeel. Die huidige situasie raak na meer as 20 jaar nou onhoudbaar en versterk die hand van dié wat beheerliggaam-outonomie wil beperk.
Ek smeek by beheerliggame, Klopper en die SAOU om ook hierdie psigologies ongesonde situasie, geskep deur die beheerliggame van vorige model C-skole, aan te pak met dieselfde toewyding en energie waarmee hulle tans mobiliseer teen die onaanvaarbare voorstelle van die SA Skolewet.
– Clifford van Wyk, Oudtshoorn
Baie dankie, adv Coetzee
Hiermee wil ek ’n lansie breek vir die voormalige senior staatsaanklaer van Oudtshoorn, adv Carol Coetzee.
Dankie vir jou eerlike diens. Ek weet vandag is dit moeilik om sulke diens van die nasionale vervolgingsgesag te verwag. Veral na die appélhof se bevinding in die Zuma-saak.
Dankie dat jy almal gelyk voor die reg behandel het en dat jy respek aan jou medemens betoon. Soms het dit gelyk of jou droom van ’n getransformeerde slegs ’n droom bly, maar met jou deursettingsvermoë het jy bewys dat voorheen benadeeldes suksesvol kan wees. Sterkte vir die toekoms!
– Michelle Hefke, Oudtshoorn
Besparing van water hierdie?
Belastingbetalers, kom ons kyk na die kwessie van waterbesparing in ons dorp. Die inwoners van hierdie dorp met sy hoë tariewe word aangesê om water te bespaar, maar die munisipaliteit bespaar nie water nie.
Die tuinslang word soggens om 08:00 aangesit in die publieke oop spasie bedoel vir voetgangers wat loop vanaf Locketzstraat tot bo by Elleystraat (Zeelandsnek).
Ek weet nie van die boonste deel nie, maar die gedeelte tussen Locketzstraat en Naudestraat se tuinslang word soggens neergesit en bly op een plek die hele dag tot voor 16:00 die middag.
Die water loop oor die teerpad om die draai en so moet ’n belastingbetaler se tuinier maar aangesê word om die tuinslang te skuif. Nou moet u mooi onthou – hier is geen gras nie, net bosse wat af en toe deur munisipaliteit werkers met “weateaters” gesny word.
Die gras wat voorheen hier was, is lankal dood omdat dit nooit natgemaak was nie. Wie bluf u met die sny van bosse en die natmaak daarvan?
Dit herinner my aan die term “too many chiefs and too few indians”. Die “chiefs” sit in die kantore en adverteer bykans weekliks vir nog “chiefs”, maar dit lyk my diegene wat buite werk is te min. Gaan kyk na Mosselbaai en George en die vooruitgang daar.
– Belastingbetaler, Oudtshoorn