’n Bekende Oudtshoorniet, sakeman en oud-raadslid, Pieter Retief, lug voorstelle oor werkskepping en die bemarking van die Groter Oudtshoorn as geheel. Die Hoorn verwel- kom insette van lesers en inwoners oor dié onderwerp – kom ons praat saam oor hoe om die ekonomie in ons gebied kan laat groei.
’n Oplossing vir werkloosheid in Oudtshoorn
Toe ek in 1967 in Oudtshoorn gekom het, was daar geen werkloosheid nie; altans, vir diegene wat wou werk, was daar werk.
Die bevolking was omtrent 800 swart mense, 25 000 bruin mense en 15 000 wit mense. Tans is daar sowat 13 000 swart mense, 45 000 bruin mense en 12 000 wit mense. Die bevolking het met ander woorde omtrent verdubbel.
Dysselsdorp het nog nie bestaan nie. Ek het nog briewe in die vroeë tagtigerjare geskryf (waarvan ek nog afskrifte het) aan die LP van destyds om beswaar te maak teen die ligging van Dysselsdorp. Die hoofbeswaar was vervoer na die werksplekke. Vandag is dit ’n koste wat ’n groot hap uit die salarisse van Dysseldorpers neem, ’n probleem wat deur staatsubsidies reggestel moet word. Ek glo die werkloosheid in Dysselsdorp is by die 70%.
In 1967 was hier ’n baie lewendige tabakbedryf wat werk op die plase, by vyf groot tabakverwerkingsfabrieke, die tabakkoöperasie, ens verskaf het. Die skoenfabriek was massief en daar was honderde mense daar werksaam. Hier was ’n Coca-Cola-fabriek, en die hoofkantore van die polisie en onderwys was op Oudtshoorn.
Indien ons aan ons inwoners werk wil verskaf, moet ons eers kyk wat het ons. Die twee grootste bronne is DIE LANDBOU en TOERISME
Landbou
Ons boerdery is hoofsaaklik die volstruis. Wat gee dit ons?
Kom ons begin by die velle. Tans lê daar duisende ondergraad-velle waarvoor daar nie ’n mark is nie. Die eerstegraad-velle word uitgevoer. Kan ons nie die velle hier verwerk nie? Hier is reeds ’n klein maatskappy wat dit verwerk en werk skep vir omtrent 20 mense. Hoekom kan ons nie die velle almal self verwerk en werk verskaf aan 10 000 mense nie?
Dieselfde geld vir die vere en die vleis.
Ons steun baie meer op saadproduksie, maar weer eens: Wat word van die saad? Dit word uitgevoer.
Kan ons dit nie hier verwerk, verpak en bemark nie ?
Tabak word weer geproduseer. Die ko-op en fabrieke wat hier was, is weg. Dit lyk of tabak weer ’n rol gaan speel. Dit beteken die herbou van heelwat infrastruktuur. Ons het vroeër rooktabak, pruimtabak, snuif, ens hier in Oudtshoorn vervaardig en bemark .
Wat olywe betref: Hier is seker nou al honderde duisende olyfbome aangeplant. Weer eens, ons kan al die olyfprodukte hier in Oudtshoorn vervaardig en bemark.
Toerisme
Bykans 300 000 toeriste besoek Oudtshoorn jaarliks. Ons het die Kango Grotte, volstruise, wildplase, die Cango Wildlife Ranch, die museum en al ons wonderlike geskiedkundige geboue en pragtige dorp en omgewing – wonderlike toerisme-aantreklikhede. Ek verwonder my altyd aan Franschhoek – die toeriste kom van al die omliggende areas om in die aande daar te kom eet. Elke aand is al die restaurante propvol. Indien jy nie ’n dag of twee vooruit bespreek nie, kry jy nie plek nie. Hoekom? Hulle het baie goeie restaurante wat bemark word. Wat van Oudtshoorn? Ons het van die beste restaurante in die land, maar ons word nie bemark nie!
Wat en hoe moet ons dit doen
Eerstens moet daar mense wees wat die plan dryf. Hulle moet werkgierig en entoesiasties wees.
Die munisipaliteit sal ’n baie belangrike rol moet speel, bestaande vervaardigers se dienste en belastings sal verminder moet word om groei te bevorder, eiendom en dienste sal teen baie redelike tariewe verkry moet word vir nuwe enterpreneurs en vervaardigers, en die “red tape” sal afgehandel moet word sodat dinge spoedig kan gebeur.
Bemarking
Hierdie is die belangrikste deel van die plan. Gesamentlike bemarking, dws van alles wat in Oudtshoorn beskikbaar is of vervaardig word, word uit een kantoor bemark. Hierdie kantoor sal ook verantwoordelik wees vir die verkryging van nuwe beleggers. Indien rolspelers gesamentlik bydra, kan dit gebeur.
Die kollege sal ook ’n rol moet speel met opleiding.
**********
Padveiligheid en investering
Weereens baie geluk met jul puik nuusblad. Laat my toe om kommentaar te lewer oor twee belangrike aspekte in ons dorp en omgewing, nl padsterftes en padveiligheid en die Besigheidskamer se kommentaar oor investering vir groei.
Padveiligheid, sterftes en verliese wat daarmee gepaard gaan
Ek het reeds oor ’n aantal jare in Die Burger, motortydskrifte asook in Oudtshoorn verskeie uitsprake gemaak weens my eie ervarings oor ’n paar miljoen kilometers op ons land se paaie. Die probleem is dat ons owerhede bly klem lê op spoed en die res net so ligweg bekyk en met futiele pogings probeer om dood op die pad te stop!
My opinie is dat daar gedurig “pleisters opgeplak” word en die oorsaak van die probleem polities te sensitief vind!
Dus word die probleem soos ’n kanker in die samelewing – al groter en erger. LP’s en ministers word vir dronkbestuur gevang – en die saak of leêr verdwyn uit die aanklaers se kantore en hulle drink en bestuur lustig voort!
Persone in hoë posisies besit passa-siersbusmaatskappye en taxi-maatskappye – en ek hoef nie uit te wy oor die korrupsie wat hier heers nie. Wetteloosheid wat hieruit spruit kan nie gemeet word nie, maar as mens die pers dophou kry jy ’n verwaterde idee van die omvang van hierdie probleem.
Mnr Becker het ’n paar punte aangehaal met verwysing na die onlangse padsterftes in ons kontrei en ek stem heelhartig saam. Maar iets wat hy nagelaat het, is die kwessie van oorlaaide voertuie, ver bo hul vermoë vir veilige beheer remme, stopafstande, dravermoë van die bande op die voertuig, ens. Ek verwys na viersitplekvoertuie met agt insittendes, ander ligte viersitplekmotors met ses insittendes wat die afgelope maand verskeie sterftes tot gevolg gehad het. Die betrokke voertuie het slegs vier sitplekgordels!
Ek lees verskeie ongeluksberigte van passasiers wat uit voertuie geslinger is!
By baie ongelukke word alkoholmisbruik genoem! Ons lees van inhegtenisnemings en ligte strawwe, maar mense het gesterf weens wetteloosheid! Is dié gevalle nie gelyk aan manslag en moord nie?
Hoekom is strawwe so lig?
Dan kom ek by mense met donkerkleurige motors wat nie hoofligte aanskakel op pad nie, selfs na sononder! Dink hulle die battery sal doodgaan as die ligte gebruik word?
Ek vermoed ook dat omkopery en korrupsie by motortoetssentrums en lisensie-afdelings aan die orde van die dag is. Ek sien in ons dorp veral vrouebestuurders wat nie weet dat voetgangers voorkeur het by zebrastrepe nie – dis nou by Absa/Checkers en op die Pick n Pay-parkeerterrein! Die vraag is: Ken diesulkes hul padreëls of hoe het hulle hul bestuurslisensies verkry?
Besigheidskamer en investering
Ek waardeer die besorgdheid, Menere, maar hoe beleggersvriendelik is ons plaaslike owerhede en inwoners?
Mense wat huise en geboue wil oprig, moet in die meeste gevalle meer as ses maande vir die goedkeuring van planne wag.
Daar is die inwoners wat beswaar maak oor die geraas van vliegtuie by die opleidingsentrum van Aifa. Meer as 100 van hul mense het Oudtshoorn verlaat en hulle het in Beaufort-Wes geïnvesteer – waar hulle met ope arms ont- vang is! Hulle koop twee hotelle en kry totale beheer oor die lughawe daar!
Wat het geword van die destydse R500 miljoen-golfbaanontwikkeling? Is dit ook deur politieke voorwaardes verongeluk?
Dis vir my duidelik dat hierdie mense nog nooit hul eie besigheid besit of bedryf het nie.
Dit is ook duidelik dat die amptenary wat lekker vet pakkette en voordele geniet, nie ’n idee het van die ekonomie van ’n dorp en streek nie. Ek wonder baie of sommige mense dink geld val uit die lug uit.
Ek lees juis in vandag se Die Hoorn iemand kla oor die lae besoldiging wat die privaatsektor betaal!
Meneer, lees hierbo, dan sal jy verstaan hoekom die privaatsektor die minimum moontlik betaal – daar is nie genoeg besigheid om meer winste te maak om te betaal nie! Wees bly jy het ’n werk en pas dit op!
Weet ook dat baie werkers nie eers daardie lae besoldiging werd is nie. Hul produktiwiteit is pateties. Die eerste ding wat die meeste van hulle op 3 Januarie elke jaar doen, is om die kalender te vat en die vakansiedae te omkring en langnaweke te beplan. Met die ekonomie van Suid-Afrika soos dit tans lyk, gaan nog ’n paar miljoen mense binnekort werkloos en dalk ook staatstoelaagloos wees.
My beste wense aan die Besigheidskamer en die privaat-besighede.
– Nico Ungerer, Oudtshoorn