Navrae oor dié poste
Eerstens wil ek dit duidelik maak dat dié skrywe nie gerig is aan die burgemeester of die munisipale bestuurder nie, maar ek het dit ook gerig aan die hoof van menslike hulpbronne van die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Hierdie skrywe is niks persoonlik nie, maar net ’n paar vrae rondom die poste wat geadverteer was vir “interns”.
My vrae:
• Hoeveel “intern”-poste beskikbaar vir 2016/2017 is geadverteer?
• Wat was die kwalifikasie-vereistes?
• Wat was die prosesse vir die kortlys en vir aanstellings?
Ek gaan vra vir ’n onafhanklike ondersoek na die kandidate en hul kwalifikasies om te verseker die beste kandidate is aangestel en dat daar nie “baantjies vir boeties” of familie betrokke was nie.
– Randall Rossouw, Oudtshoorn
(Die brief is aan die munisipaliteit gestuur vir terugvoer. – Redakteur)
Roekelose bestuurders
Ek het ’n tyd gelede aan die plaaslike owerhede verskeie keer oor onder meer roekelose bestuur in ons dorp geskryf. Ek beweeg baie rond en sien allerhande optredes deur padgebruikers wat duidelik dui op wettelose roekeloosheid.
Drie weke gelede op ’n Sondagnamiddag was daar ’n sterfgeval op die Mosselbaaipad en is ander ernstig beseer. Ses mense was in ’n viersitplekmotor. Party wat nie veiligheidsgordels gebruik het nie, het blykbaar uitgeval.
’n Plaaslike ambulans kom terug van die ongelukstoneel en maak ’n U-draai by Voortrekkerweg en Jan van Riebeeckweg – voor aankomende verkeer wat vinnig moes rem om ’n ongeluk te vermy – ek was daar!
Vanoggend was daar ’n ongeluk op dieselfde kruising, weer vanweë ’n ambulans wat ’n U-draai voor aankomende verkeer maak.
Ek het by verskeie geleenthede soortgelyke optredes aanskou en veral in ons hoofstraat – wat ’n smal straat is – is dit aan die orde van die dag asook voor Standard Bank in Kerkstraat. Lyk my mense het nie petrolgeld om om die blok te ry nie?
My onlangse skrywe, ook aan die verkeershoof, was ’n herhaalde versoek om kameras by die hoofroete se verkeersligte te installeer vir die mense wat dink ’n rooi lig beteken voet in die hoek sit! Natuurlik het ek geen reaksie gekry nie, maar as ’n kind of ’n voetganger raakgery word, word ’n helse kabaal opgeskop en koerante berig volblad daaroor.
Die kern van die probleem word totaal geïgnoreer en spoedkameras eerder opgestel wat mense betrap wat ’n belaglike 71 km/h in ’n dubbelbaanpad ry.
Selfs polisievoertuie ignoreer die verkeersligte en mense verontagsaam dit – ek aanskou dit dikwels – veral in Voortrekkerweg, Langenhovenweg en Baron van Reedestraat.
Ongelukke kos ons land miljarde rande, veral mediese koste en bakherstelwerk, en beroof ons van kosbare sakemense en familie. Ergste is die misbruik van bloulig-brigades wat ’n voorbeeld stel van wetteloosheid.
Raadslede, waar is julle?
– Nico Ungerer, Oudtshoorn
(Die brief is aan die munisipaliteit gestuur vir terugvoer. – Redakteur)