Deur Tania Smit
Deur Tania Smit
In my droomwêreld
wil ek ’n boyfriend hê,
een met ’n six-pack en plooitjiesoë
en ’n brilletjie wat wys hy lees baie boeke
en hande wat lekker kan vat
en vir my pesto en tahini en hummus kan maak
ek wil dun enkeltjies hê
en my lyf deur ’n strooitjie kan pas
en myself uiteindelik in ’n bikini in Truworths se spieël
bekyk en dink:
Wow, jou boude lyk fantasties!
ek wil naels hê wat naellak vir ’n week mooi hou,
arms wat vêr genoeg is om die menu te lees
’n kamera wat se settings altyd reg is
wifi wat nie stotter op Pinterest nie
en genoeg petrol in my kar om oor grense te kan ry
en vêrplek-mense te kan beleef
en ek wil daai karavaantjie hê…daai klein ronde blommetjies- een wat maklik sleep en lekker slaap.
en ek wil lekker en lank aan die voete van ’n groot boom sit.
en in ’n vuur in kyk wat nooit kole maak nie.
en ek wil bene hê wat kan parkrun
en ’n wynfontein in my agterjaart
en staalbedjies onder my pruimboom vir buite slaap
en ’n tent wat self afslaan en in sy sak spring
en tuinliggies wat aanhou werk as die gasspreier aan was
maar in die regte lewe wil ek net my eie lewe hê
met al my diere en kinders en vriende en familie
om ou memories te vertel
en nuwe memories te verf
en al laggend en huilend en real en saam
ons waens deur die lewe se drif te trek
en met ’n hart wat maklik vol sal raak
wil ek langbeen bo-op die berg van die lewe
nog ’n dag se son sien opkom
en met my gesig na die Lig gedraai
al die dae van my lewe vreesloos leef
wawyd liefhê
en rotsvas staan
Dis al.