Dankie aan dié omgeemense
By die lees van Die Hoorn van 20 Julie het veral twee berigte my aandag getrek en my weer laat besef dat die mense van Oudtshoorn ware omgeemense is.
Eerstens verwys ek na die spontane reaksie van verskeie organisasies, besighede en die talle vrywilliges (inwoners) wat op Dinsdag 18 Julie mee- gedoen het aan die skoonmaak-aksie van die Grobbelaarsrivier. Die betrokke deel lyk nou soveel beter.
Dit is egter so jammer dat daar steeds morsjorse in ons strate rondloop wat sonder skaamte of gewete rommel strooi en nie die moeite wil doen om ’n geskikte houer daarvoor te vind nie. Opvoeding begin by die huis, nie waar nie? Miskien is meer sigbare houers by sekere plekke op straat die oplossing. Die tweede groep omgeemense van Oudtshoorn waarop ek trots is, is die organiseerders van groot sportbyeenkomste, soos vir rugby, atletiek, krieket en ook die pas afgelope Klein Karoo Kampioenskappe vir motors. Lees gerus weer die berig daaroor en let op die organisering wat dit moes verg.
Dié twee gevalle laat my weer trots voel op Oudtshoorn en sy mense.
– Espie Olivier, Oudtshoorn
Biddag vir reën
Nadat ek baie daaroor gedink het, het die Here dit op my hart gelê om maar tog hierdie brief te skrywe.
Hoe is dit moontlik in ag genome die huidige droogtesituasie waarin ons al vir maande verkeer dat die NG Kerk, die Besigheidskamer en georganiseerde landbou nou nog nie ’n biddag vir reën uitgeroep het nie. Dit is goed om elke Sondag tydens eredienste vir reën te bid, maar ek is egter oortuig daarvan dat die Here van ons verwag om van ons kosbare tyd af te staan vir ’n uur om ons voor Hom te verootmoedig en spesifiek vir reën te bid.
Lyk vir my ons aanvaar maar net die omstandighede; maak nie saak wat die gevolge vir mens, dier en plant inhou nie, en al weet ons ook dat ten spyte van al die wonderlike tegnologie waaroor ons beskik, die mens nie reën kan maak nie.
Kom ons as gelowiges kom saam en doen die regte ding.
– Derick Engelbrecht, Oudtshoorn
’n Gebrek aan deursigtigheid
Die afgelope twee weke se briefpla-sings oor die Zeelandsnek-reservoir is van toepassing.
Ek wil graag ’n beskeie stuiwer in die armbeurs gooi. Die munisipale bestuur moet ophou om Oudtshoorniete se intelligensie te onderskat en hulle terugvoere op navrae moet nou feitlik en deursigtig begin beantwoord word.
Feit is, die water vanaf die reservoir word nou al jare beheerd uit die reservoirs gelaat. In so ’n mate dat ’n moeras reeds begin vorm het in die veld by die Mosselbaai-afrit.
Dit bring my by vanoggend, 28 Julie. Iewers gedurende vanoggend of gisternag is water uitgelaat vanuit die reservoirs. Kyk na die omvang van die foto’s. As ’n waarnemer is dit vir my duidelik dat iets nie reg is nie en Oudtshoorniete gaan binnekort die droogtetariewe-gelag begin betaal.
Hier is duidelik ’n gebrek aan deursigtigheid, streng leierskap en bestuur. Munisipale bestuur skuld ons ’n verduideliking.
– André Barnard, Oudtshoorn
Keerpunt?
As die kerk in navolging van 2 Kronieke 7:14 voor 8 Augustus sal saamstaan en ’n dag van verootmoeding uitroep, kan die gebeure in die parlement op dié dag ’n keerpunt wees in ons land se geskiedenis.
Ons hemelse Vader kan Hom ook oor ons ontferm wat betref die ontsettende droogte.
Die ideaal sou gewees het as daar by twee of meer plekke in Oudtshoorn gesamentlike byeenkomste gereël kon word, maar die tyd laat dit nie toe nie. Sal alle gemeentes Sondag gebruik vir so ’n verootmoedigings-geleentheid?
– Begenadigde, Oudtshoorn