Briewe

Ondergrondse water nie ’n oplossing nie

Ek reageer graag op die skrywes van dr Adam Barnard en die terugvoer van mnr Chris Koch rakende die bogenoemde onderwerp.

Die spreekwoord – “Grysheid bring Wysheid” – is weer eens waar bewys. Oom Adam slaan die spyker op sy kop. Sonder om in die detail van die sogenaamde “Blossoms-waterprojek” in te gaan, wil ek graag oom Adam se voor­stel steun.

Ek het toevallig ook ’n boorgat (184 meter diep) net ’n paar honderd meter van sommige van die Blossoms-boorgate. Net meer as drie jaar gelede het my boorgat 48000 liter per uur met selfdruk gelewer. Intussen het die droog­te ons getref en het die Kliprivier (’n belangrike voedingsbron van die Blossoms-boorgate) feitlik nooit ge-loop nie. Tans lewer my boorgat slegs 11000 liter per uur met selfdruk. Noodgedwonge moet ek nou na ander duur alternatiewe, wat ’n moontlike pomp insluit, kyk.

Dit is ’n uitgemaakte saak dat die boorgate van die Blossoms-waterprojek ook baie negatief deur die droogte beïnvloed is.

Dit sou dwaas wees om honderde miljoene rande te bestee en steeds sonder water te sit as die volgende droogte ons tref.

In goeie rëenjare sal die boorgate waarskynlik sterk wees, maar dan het Oudtshoorn water uit ander bronne in oorvloed. Ons soek water tydens die droë jare en daarvoor is riskante boorgate nie die oplossing nie.

Die fondse van die Departement Waterwese kan beslis beter aangewend word as om in duur grondwater (wat altyd ’n hoë risiko tydens droogtes sal inhou) te belê. Daar moet beter alternatiewe, soos byvoorbeeld die bou van nog ’n dam, wees.
– Gerrie Ferreira, Chandelier Game Reserve, Oudtshoorn