Vrae oor Oudtshoorn
Baie dankie vir almal wat betrokke is by die opstel en uitgee van Die Hoorn. Ons kan nie wag vir die volgende een nie.
Hier is so ’n paar vrae wat deur ons plaalike munisipaliteit beantwoord moet word.
Toe ons huisgesin ons in die jare 70’s hier kom vestig het, was Oudtshoorn ons eerste keuse omdat die dorp goeie geleenthede gehad het vir ons kinders wat skool toe moes gaan. Hier was vier laerskole, drie hoërskole en twee onderwyskolleges – dus om vanuit te kies en te keur, ook wat sport betref.
Met ’n stadsklerk soos Michael Schulz en ’n burgemeester soos Arnold de Jager was hier heelwat ontwikkeling en die dorp was skoon.
Die De Jager Sportkompleks was die perseel wat dwarsdeur die jaar gebruik is vir verskillende sportgeleenthede soos gimnastiek ens. Ek wonder wat gebeur nou daar.
Die hangbrug met ons pragtige rivier wat deur die dorp loop, is ook nie meer wat dit was nie. Deesdae groei riete welig, net reg vir bosslapers en brande.
Kyk hoe lyk Hoogstraat. Ek wil ook graag daar gaan inkopies doen, maar die sypaadjies word versper deur straat-smouse en fietse wat daarop ry.
Die stegies sit vol kinders met snuifbottels en dit dien ook as toilet. Dit is gevaarlik om alleen daar te loop.
Al my hoop is op mnr Macpherson en sy span. Ek glo hulle sal ons dorp weer na hoofstad-gehalte laat terugkeer.
– Mona Brittnell, Oudtshoorn
Burgemeester antwoord self leser se vrae
Hallo, mev Britnell, ek deel u sentiment en bekommernis ten opsigte van die agteruitgang van ons pragtige dorp die afgelope jare.
Korrupsie en wanbesteding het ons dorp op sy knieë gedwing en ons moet nou alles in die stryd werp om oplos-sings te vind. Korttermyn politieke ge-win is onaanvaarbaar.
Die De Jager Sportkompleks word nog steeds gereeld gebruik vir sport en ons het die Eden Sportakademie daar gevestig.
Ek het persoonlik beplanningsessies saam met die onderskeie rolspelers van verskeie departemente en CapeNature belê om langtermyn-oplossing vir die hele Grobbelaarsrivier te ontwikkel, insluitend die uitroei van indringerplante en om ’n wandelroete daar te stel.
Ons het sopas ’n nuwe beleid goed-gekeur om straatsmouse te reguleer en ons wetstoepassers het opdrag om streng op te tree teen ongemagtigde gebruikers.
In samewerking met ons sakekamer is ’n netwerk van geslotebaan-televisie-kameras geïnstalleer wat deurlopend gemoniteer word om misdaad en kwaaddoeners vas te vat.
Die straatkinders is vir ons almal ’n probleem wat ons in samewerking met die verantwoordelike Departement van Maatskaplike Dienste tans aanspreek. Ons versoek egter intussen dat ons nie geld moet gee vir kinders wat dit vir dwelms verruil nie.
Ons kan weer ons dorp se ou glorie herstel indien ons saamwerk om dit te laat realiseer. My opregte dank en waardering vir elkeen wat hand in eie boesem steek en die munisipaliteit bystaan, veral in hierdie moeilike tye.
– Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester
Siek en sat om ander se rommel op te tel
Ek wens die voetgangers wat deur die dag vanaf die dorp na die Oudtshoorn Hospitaal of militêre basis loop, wil groot asb die papiere, leë sigaretdosies, leë koeldrankbottels en leë drankbottels nie onder die hangbrug of langs die heining van Oudtshoorn Aftreeoord neergooi nie.
Het julle dan geen respek vir ander mense se eiendom nie?
Die gebied onder die hangbrug, wat ’n geskiedkundige besienswaardigheid is, word nou as stortingsterrein deur sakkrappers gebruik.
Leë drankbottels lê orals neergegooi of stukkend gegooi. Ek het al gesien hoedat ’n klomp kinders wat in die skool behoort te wees, die dwarsbalkies stukkend trap en die brug heen en weer swaai.
Ek as inwoner van die Oudtshoorn Aftreeoord is siek en sat om ander mense se rommel op te tel.
– Marie, Oudtshoorn
Niks so spesiaal soos ’n ma
Met Moedersdag wat Sondag wêreldwyd gevier is, het ons op Die Hoorn se Facebook-bladsy lesers gevra om boodskappe vir hul ma’s aan ons te stuur waaruit ons ’n keuse kon maak vir plasing. Ons plaas graag die volgende twee besonderse boodskappe van lesers wat ons ontvang het, boodskappe waarmee baie van ons kan identifiseer:
Haar knieë is deur gebid
Haar skouers nat gehuil
Haar boodskappe vol motivering
Haar raad ’n foonoproep weg
Die afstand is groot, maar die liefde
Die liefde oorweldigend
Dis my krag
My blessing
My ma
Maretha Wolfaardt
-Liefde, Corne Wolfaardt
Aan my mammie, Mariaan Smith, vir Moedersdag:
Dankie Ma vir alles wat Ma doen
Al is ek soms stout
Vergewe tog asseblief
Weet ek het Ma tog so lief
Dankie dat Mammie altyd daar is wanneer ek Ma nodig het
-Liefde, Mariska Smith