Briewe

Bruinmense net swart as dit media pas!

Christo van der Rheede is op 18 September 2020 aangestel as die nuwe uitvoerende direkteur van AgriSA. Op Business Day en Food for Mzansi se webtuiste word na Van der Rheede verwys as die eerste swart uitvoerende direkteur.

Ons almal weet dat Van der Rheede kultureel as ’n bruinman of kleurling beskou word. Hoekom dan, wanneer bruinmense hoë hoogtes bereik, word daar na hulle verwys as swart? Maar wanneer dit kom by die regering se werkskeppingsprogramme, bevordering en uitdeel van hulpfondse, word hulle as bruinmense en kleurlinge beskou. Dieselfde het gebeur met wyle prof Russel Botman, Chester Williams, Pieter de Villiers en Wade van Niekerk. Hoe werk dit?

Jessie Duarte, sekretaris-generaal van die ANC, het verlede jaar in ’n onderhoud op e-Nuus gesê dat sy swart is. Kultureel is sy ’n bruinmens. Vir wie is die bruin of “coloured” blokkie op die regering se vorms, beleide en nasionale sensusvorms dan gereserveer?

Ek is dankbaar dat die DA verlede week ’n beleid aanvaar het dat hulle teen rasseklassifisering en rasgebaseerde aanstellings is, en dat die regering se BEE-program moet stop.
– Glen Snyman, leier van People Against Race Classification (www.parcsa.co.za), Oudtshoorn