Grondeisers na 20 jaar steeds aan lyntjie gehou
Op ʼn Saterdagoggend vroeg in 2000 was daar groot opgewondenheid en jolyt gehou in Dysselsdorp.
Die rede – die destydse minister van grondsake, Thoko Didiza, het ʼn tjek van R20 miljoen aan die grondeisers van Dysselsdorp oorhandig. Daar is gebraai en groot makietie gehou by die ou tennisbane waar Score en die Siembamba Kleuterskool nou geleё is.
Oor die jare is verskeie grondeisekomitees gestig wat Dysselsdorp se grondeis sou bestuur. Hierdie komitees het gekom en gegaan, maar steeds is daar met die finale uitbetalings van die grondeis gesloer.
In ’n stadium is daar ook maandeliks van ons arme pensioenarisse se pensi-oengeld R10 per maand verhaal. Dit sou dan blykbaar dien as vervoergeld vir daardie spesifieke grondeiskomitee, na Kaapstad. Van daardie reise en onderhandelings het ook mooi niks gekom nie.
Die afgelope drie tot vier jaar is die grondeisekommissie op George besig om hierdie proses te bespoedig. Elke keer wanneer hulle in Dysselsdorp kom, kom hulle altyd met een of ander storie na die inwoners. Een storie was dat die eisers se ID-afskrifte en bankstate verval het.
Dan moet die arme inwoners skarrel om R40 vir taxigeld na Oudtshoorn te kry vir bankstate.
Hierdie storie hou nou al ’n baie lang tyd so aan.
Wat my persoonlik nogal opval wanneer die grondeise-mense van George hiernatoe kom, is die lomp liasering-stelsel van die eisers se lêers en gegewens.
Die grondeisekommissie op George hou die eisers van Dysselsdorp nou al 20 jaar aan ’n lyntjie. Wanneer gaan dié speletjie ’n einde kry? Baie van die arme eisers het al gesterf sonder dat hulle kompensasie ontvang het. Die nie-afhandeling van die eise veroorsaak ook dat byna geen ontwikkeling werklik in Dysselsdorp kan plaasvind nie.
Ek wil graag namens ons arme grondeisers vra dat daar daadwerklik ondersoek ingestel word oor waarom hierdie belangrike proses nie afgehandel kan word nie. Ons wag graag op positiewe reaksie en nie weer net beloftes nie.
- Moedelose en bekommerde grond-eiser van Dysselsdorp
Burgersentrum: Enige kans op instandhouding?
Die KKNK is weer op hande. Is daar al na 25 jaar enige instandhouding gedoen aan die Burgersentrum?
Die Banketsaal? Ouditorium? Agter die gordyne? Die verhoog? Die badkamers en openbare fasiliteite?
Is daar géén kans dat daar ’n opgradering kan plaasvind nie?
Ten spyte van ’n onlangse pleidooi en aanbod én uitdaging van Nic Barrow het daar klaarblyklik nog niks gebeur nie!
Kan daar nie net ook ’n bietjie teruggeploeg word in die dorp, besoekers en kunstenaars van gehalte wat hierdie fasiliteit moet gebruik vir optredes nie?
Presies ’n jaar gelede het ek persoonlik kennis gemaak met die haglike verwaarloosde toestand van die fasiliteite “agter die gordyne” tydens ’n optrede van Nataniël en Charl du Plessis en Geselskap.
Dit was skokkend!
Kan ons regtig toelaat dat hierdie agteruitgang so onder ons oë gebeur, sonder om aksie te neem?
Ek doen hiermee ’n beroep op die munisipaliteit en sake-instansies om asb in te gryp en die dorp weer op die “map” te plaas.
Begin hier!
Almal is nou so begeesterd oor die welkome reën wat geval het …waarvoor ons so dankbaar is… Die stof het nou gaan lê… Nou moet die restourasie begin!
- Alet Coetzee, Oudtshoorn