Voorstelle tov parkering vir gestremdes
Ek ervaar daagliks dat die motoriste van Oudtshoorn op die parkering vir gestremdes op die dorp parkeer. Hierdeur toon hulle dat hulle geen respek het vir persone met gestremdhede of selfs ons verkeersmanne en vroue nie.
Ek wil voorstel dat wanneer ’n persoon wat op so ’n parkeerplek mag staan, vind dat daar ’n voertuig sonder die blou kenteken geparkeer is, hy of sy ’n foto van die voertuig neem met die registrasienommer sigbaar en dit aan die hoof van verkeer voorsien.
Tweedens moet elkeen ook ’n selfoonnommer van ’n verkeersman bekom om hom onmiddellik te skakel sodat die voertuig verwyder kan word en die bestuurder ook ’n stewige boete opgelê word.
Die raad kan gerus hierdie voorstelle van my oorweeg en in ’n raadsbesluit vervat. Dit is my beskeie bydrae in belang van ’n n beter lewe vir gestremdes.
– Japie Coetzee, Oudtshoorn