Hanneleen Mostert wie se boek, My Skip Skop Lewe, pas gepubliseer is. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
DIE lewe het ’n manier om baie draaie met jou te loop.
So lui die woorde agterop Hanneleen Mostert (63) se boek oor haar lewe wat pas gepubliseer is.
Hanneleen, wat in Mei 2017 na Oudtshoorn toe getrek het, sê sy het bevryding en genesing gevind deur haar lewe neer te pen.
“Ek is nie ’n kenner van hoe mens altyd die regte keuse maak nie,” vertel sy, maar sê as haar boek een vrou kan help, dan is dit genoeg.
My Skip Skop Lewe is deur Dagbreek Uitgewers gepubliseer en geïnspireer deur die weergawe van Sonja Heroldt van die be-kende David Kramer-lied, Skipskop.
“Sonja Heroldt was sonder dat sy dit weet ’n mentor in my lewe, en is steeds,” vertel sy.
Hanneleen het die grootste gedeelte van haar lewe in Namibië deurgebring.
“Ek het vyf jaar gelede begin skryf aan my boek, maar dit het nie begin as ’n boek nie.”
Sy vertel dat sy een nag wakker geword en net begin skryf het.
“Ek moes net al hierdie gevoelens uitkry, en skryf was ’n manier om uiting te gee aan dit wat binne my aangegaan het.”
Sy het einde Julie haar manu-skrip ingestuur en op 7 Augustus gehoor dat die manuskrip goedge-keur is.
“Ek het my eerste 100 boeke op 25 September by PostNet gaan haal!”
Sy sê sy het reeds 25 boeke verkoop, en vertel opgewonde dat van haar boeke ook Namibië toe gestuur is.
Noudat haar boek gepubliseer is, hou sy haar besig met gebak vir partytjies, die maak en versier van hoede en kaartjies asook die ont-werp en druk van inspirerende T-hemde.
Sy skryf ook gedigte en wil eendag graag ’n digbundel uitgee.
• Bestel My Skip Skop Lewe by Hanneleen (071 264 8727) of op haar uitgewer se webblad. Die prys is R240.