Briewe

Nog geen reaksie van raadslid

Ek woon hier in Oudtshoorn in die deel wat onder mnr Kersop se wyk sorteer.

Ek het lank gelede ’n brief aan mnr Kersop geskryf en in die posbus voor sy huis geplaas, en geen antwoord van hom ontvang nie.

Ek het onlangs per telefoon met mev Kersop gepraat, my telfoonnommer verskaf met die versoek dat hy my moet kontak. Ek het ook ’n boodskap op sy selfoon gelaat.

Ek dink mnr Kersop is dalk bietjie besig, maar ek meen ook dat ander kiesers in sy wyk dieselfde “geen reaksie” van hom ontlok wanneer hulle vra dat hy reageer.

Gelukkig het ons weer ’n verkiesing en dan sal ons anders stem.
– Jos de Villiers, Oudtshoorn

Bruin wasgoedwater

Sjokoladebruin water tydens die spoelsiklus van ’n vol bondel (voorheen) spier­­wit, gastehuis-beddegoed… (sien foto geneem op Woensdag 6 Maart 2019 om 10:30).

Dit is die hoeveelste bondel wit linne wat geruïneer is as gevolg van bruin/ vuil munisipale water – water waarvoor ons ten duurste betaal. Ek moet die beddegoed vervang om­dat ons nie die vlek­ke uitkry nie.

Dit is onregverdig dat ons elke keer die onkoste hiervan moet dra. Ek wil graag weet of die munisipaliteit bereid is om ons te vergoed vir hierdie skade wat deur hulle aangerig word?
– Hermien Brittnell, Karoo Sun Bou­tique Guest House, Oudtshoorn

Beide briewe op die bladsy is verlede Vrydag aan die munisipaliteit gestuur vir reaksie. – Redakteur