‘Onwettig’ in hegtenis?
Ek is besig om ’n memorandum via AfriForum aan die nasionale polisiekommissaris op te stel.
Die inhoud handel oor die groot getalle onwettige inhegtenisnemings en miljarde rande wat aan siviele eise uitbetaal word. En oor die persepsie wat by die gemeenskap bestaan dat die polisie dikwels die slagoffer soos ’n misdadiger behandel en die misdadiger laat wegkom.
Nou lees ek in Die Hoorn van 15 Februarie 2018 ’n berig met die opskrif “Man in hof nadat hy twee skote skiet by museum”. Die inhoud van die koe-rantberig pas nogal mooi in by juis dit wat ek gaan poog om onder die aandag van die polisiekommissaris te bring. Kom ons neem aan die berig in Die Hoorn is feitelik korrek. In die geval sal ek wil weet wat daartoe aanleiding gegee het dat Iwe Kruger in hegtenis geneem, voor die hof gebring en op R1 000 borgtog vrygelaat is. Dit wil vir my voorkom dat mnr Kruger vir sy lewe gevrees het toe 20 straatkinders met messe gewapen hom gekonfronteer het. Sy onmiddelike reaksie, gemeet aan die van ’n redelike mens, was om sy lewe te beskerm. Die enigste wapen in sy besit was waarskynlik ’n vuurwapen om ’n dreigende aanval van persone gewapen met messe af te weer. Om verder die aanval af te weer het hy sy vuurwapen getrek, op die aanvallers gerig en twee skote afgevuur. Dit het die gewenste uitwerking gehad.
Volgens my mening en sekere uitgewysde sake wat reeds in ons howe op appèl bevestig is, sou mnr Kruger selfs indien iemand op die toneel beseer of gedood word, hy hom op die verweringsgrond van ’n noodtoestand kon beroep.
Wat ek as gehoorsame burger van die land van die plaaslike ondersoekbeamptes sou wou weet, is of daar ook teen die 20 straatkinders opgetree is? Is hulle aangekeer en deursoek vir gevaarlike wapens? Is getuies op die toneel ondervra om ’n geheelbeeld van die misdaadtoneel te kry?
Volgens Die Hoorn se berig is daar ’n onafhanklike getuie wat sekere waarnemings gedoen het wat stawing gee vir die rede tot die handeling van mnr Kruger op die toneel.
Die Polisie het ’n diskresie om uit te oefen by arrestasies en dit is nie noodwendig dat iemand wat verdink word summier in hegtenis geneem hoef te word nie.
– Bart Vosloo, Oudtshoorn
Einde van ’n era
Wie sou ooit kon dink dat ons onverhoeds eers die einde van die Mugabe-era en kort daarna die einde van die Zuma-era sou beleef.
Weer eens word beklemtoon dat misbruik van mag en die waan van onoorwinlikheid meerendeels in oneer eindig. Gelukkig kan ons nou ontslae raak van ’n obsessie in denke oor iemand wat nie ons beste belange gedien het nie.
Indien die nuwe benadering van Ramaphosa regtig die belange van landsburgers eerste wil stel, moet sy prioriteite nie slegs beperk wees tot verbetering in dienslewering nie.
Dit baat nie veel dat demokrasie opgehemel word, terwyl mense steeds gebuk gaan onder swak staatsadministrasie waardeur hulle erg benadeel word en geen verweer het nie. Ons hoop daarom dat op voetsoolvlak geleenthede geskep sal word sodat onbevange daaroor gepraat kan word.
– Manuel Santi, Oudtshoorn
Wie gaan betaal?
Die belastingbetaler het nog nie heeltemal herstel van die laaste buitensporige tariefverhogings om die munisipaliteit van bankrotskap te red weens die swak bestuur deur ’n korrupte en onbevoegde raad (waarvan die DA deel was) nie.
Nou kom die burgemeester en sy meelopers en wil straatname verander. Wat gaan dit nie alles kos nie en wie gaan betaal?
Meneer die burgemeester, dis nie almal wat groot salarisse en voordele ontvang soos die raadslede nie – geen wonder dat almal deesdae raadslede wil wees nie.
Die meeste mense kry swaar, dis droog, boerdery en besigheid beweeg op dun ys – mense kan hul werk verloor.
Die kiesers is moeg en keelvol vir onnodige en buitensporige uitgawes.
Daar is baie ruimte vir verbetering, so gebruik eerder die tyd en geld om die plek skoon te maak en strate en sypaadjies netjies te hou. Kom kyk ’n slag hoe lyk De Rust – word hier nog skoongemaak?
Oorhaastige en ongewilde besluite kan u by die stembus duur te staan kom.
– Albert Schoeman, De Rust