Briewe

Dink uit die boks oor tuine!

Oor sowat 50 dae is dit KKNK in die droogtegeteisterde Oudtshoorn … en kyk hoe vertoon ons dorp se munisipale tuine?

Die middelman se rose is vrek… die gras is vrek… die bome vrek…
Bestaan daar nog ’n parke-afdeling in die dorp? Indien wel, kan hulle nie intree en kundigheid betrek om die plantegroei aan te pas by ons woestyntipe klimaat nie? Net iets doen om die dorp en Burgersentrum meer verwelkomend te laat lyk nie?

Vergeet van rose en fyn struike en gras… Vra skenkings van aalwyne en vygies en vetplante wat gehard is teen die aanslag van die droogte en bloedige son… en plant bome en versorg díe wat tans voor die Polisiekollege geplant is ter ere van Tertia Lotz. Net ’n bietjie rioolwater en omgee kan ’n verskil maak!

Ek was onlangs in Marokko en wat my die meeste beïndruk het van die land en elke eenvoudige dorpie was die keurige plante en tuine wat aangepas was vir die klimaat… Daar die klimaat stem in soveel opsigte ooreen met díe van die Klein Karoo.

Ek doen ’n ernstige beroep op ons munisipaliteit en die raad om in te gryp en ’n verskil te maak. Ek skaam my as ek dink dat hier binnekort ’n fees aangebied word met die verskoning dat ons deur droogte geteister is. Daar is ander planne wat kan werk.

Hier is ongelooflike kundige mense wat genader kan word vir hul kennis – om die dorp op paslike wyse weer te verfraai. Dink bietjie uit die boks uit!
– Alet Coetzee, Oudtshoorn

Nee vir nuwe watermeters

De Rust se inwoners sê nee vir die nuwe watermeters wat die munisipaliteit in ons dorp wil installeer.

Op Woensdag 24 Januarie het ons ’n warm vergadering by House Martin in De Rust gehou. Die Oudtshoorn Munisipaliteit is verteenwoordig deur raads­lede Julia le Roux en Raymond Wildschut. Die onderwerp was kwa­li­teitprobleme met water en die onde­mokratiese besluit van die raad om die bestaande watermeters wat oud is maar nog goed werk, te vervang met ’n nuwe stelsel terwyl daar verskeie onopgeloste sake is wat nie die nodige aandag kry van die munisipaliteit nie.

Die gemeenskap is meegedeel dat opdrag ontvang is om die nuwe meters in De Rust te installeer omdat water­-toe­vloei outomaties en ook sentraal afgesluit of beheer moet word.

Die nuwe meters veroorsaak ont­wrigting. Dit is ook gevaarlik want as daar byvoorbeeld ’n brand is wat geblus moet word en die meter skakel die vloei outomaties af of dit word in Oudtshoorn afgeskakel omdat die verbruik te hoog is, word dit problematies aangesien ons nie plaaslik ’n brand­weerdiens het nie. ’n Huishouding wat nie self beheer oor hul toevloei het nie, kan ook so ernstig ontwrig word in ander omstandighede. Daar is maniere om verbruik te beheer.

Die beslissing waartoe gekom is na bespreking is dat De Rust néé sê vir die nuwe meters en dit eers weer sal oorweeg nadat ander dringender watersake behoorlike aandag gekry het, soos byvoorbeeld die beheer en bestuur van die water by die bron-ingang van water. Daar is erge lekkasies en tekens van swak of geen beheer oor die kwaliteit van die water waarvoor ons ten duurste moet betaal. Ons meen ook dat ons wa­ter in elk geval hopeloos te duur is en dit meer redelik en regverdiger volgens die beskikbaarheid voorsien kan word. Dit vloei reguit uit die berg uit in die dorp in.

Die geld wat tans ten duurste aan die nuwe meters bestee word, moet eerder gebruik word vir die bestuur en verskaffing van water van ’n beter ge­halte, meer gereeld en teen ’n billiker prys aan De Rust.
Probleme met die nuwe meters moet ook eers deegliker ondersoek en nagesien word.

Dit is belangrik dat die munisipaliteit ook met die nodige toewyding kyk na ander probleme in die gemeenskap soos die teer van Nuwelaan wat al vir baie jare gereeld voorgelê en versoek word.

Dit is beslis néé vir die nuwe meters in De Rust.
– Inwoner, De Rust