Ry kort draaie om foltering te beperk
Tydens ’n besoek aan my geliefde geboortedorp, Struisieland oftewel Oudts-hoorn, het ek Jaco Vorster se “Ek kies om hier te woon” op 22 Maart 2018 in Die Hoorn gelees.
Op reis na Oudtshoorn drink ek letterlik die bekende wydheid van die omringende berge in. Ek gaan na een van my vele huise, na my wortels, waar ek gebore en getoë is.
Die dorp vervul my egter elke keer met heimweë; die winde van verandering het alles wat eens só bekend was, weggewaai en ek soek verniet na M Wilck en Ons Winkel.
Dankie tog vir die waardigheid van die Prince Vintcent-gebou. Ek maak maar kort draaie om die foltering te beperk.
Ek is teleurgesteld oor die welstand van ons pragtige ou dorp met sy trotse geskiedenis.
Waar is ons eens skoon riviere? Ja ek weet, maar hou tog op met die holruggeryde voëlleweverskoning. Ons weet tog almal dat daar genoeg bome, riete en struike vir die gevleueldes is.
Roei ’n slag die riete-euwel met wortel en tak van ’n kant af uit sodat die water soos in vervloë dae deur die dorp kan vloei; dat die lae driwwe met skoon water kan oorstroom in plaas van die nou stinkende, stilstaande water wat ons dwing om betyds alle vensters en openinge in ons aantog na die riviere toe dig toe te maak.
Ek weet dat die vorige dorpsraad die huidige bestuur met ’n geweldige skuldlas as gevolg van hul wanbestuur en swak administrasie gelaat het, maar ek is bekommerd oor die strate wat plek-plek soos Noord-Wes se slagveldpaaie lyk.
Ek was en is steeds trots op my herkoms, maar wil so graag hê dat die ‘Vreemdelinge in Jerusalem’ wat hier deurry, feesvier en vertoef ook my trots moet verstaan en nie spottend na my worteldorp moet verwys nie.
By voorbaat dankie vir u aandag, begrip, geduld en bowenal met die handevat om ons dorptrots terug te wen.
Bolandgroete
– Linda D Barnard
Baie dankie aan omgeevriende
Graag wil ek net sê baie dankie sê aan ’n paar omgeeviende.
Ek het op 30 Junie regoor Die Wolwinkel langs Spar siek geword. Hosiea Blaauw en Lisbe de Villiers het my te hulp gesnel, water aangegee, sit gemaak en die ambulans ontbied.
Die ambulans het gou gekom en my hospitaal toe geneem waar die nodige behandeling toegepas is.
’n Vriendin het weer vir ons ’n warm koppie sop en brood die Saterdagaand in die hospitaal gebring.
’n Groot dankie aan die omgeevriende, ook aan die hospitaalperso-neel.
Deur om te gee maak ons die lewe ’n beter en mooier prentjie.
– Jean Arries, Oudtshoorn