Waterprobleme
My vraag is: Is daar ’n waterprobleem in Oudtshoorn? Indien ja, hoe groot is die probleem? Wanneer het die munisipaliteit daarvan bewus geraak? Wat is die werklike oorsake daarvan?
Ons sien uitbreidings aan die oostekant van die dorp waarvoor water be-groot moet word. Wat is die rede vir die toestroming van mense na ons dorp? Waar kom hulle vandaan, waar werk hulle, wat is hul bydrae tot die dorp se ekonomie? Word dié vrae gevra deur munisipale amptenare voordat ’n huis aan iemand toegeken word? Ek sal graag die goedkeuringskriteria wil sien!
Iemand wat ’n huis het, moet seker ook ’n werk hê en ’n positiewe bydrae lewer tot die dorp se ekonomie, maar ek sien soveel mense ronddrentel en rondsit; is dit hoe ’n dorp moet lyk? Kan ons ekstra huise bekostig met ’n dorp wat hoofsaaklik afhanklik is van landbou en toerisme? Dit plaas verdere druk op die infrastruktuur? Die bars van waterpype wil ek nie eers aan dink nie.
Ek vra dié vrae omdat die land en die landbou spesifiek gebuk gaan onder een van die ergste droogtes in menseheugenis. Die volstruisbedryf wat die dorp meer as ’n eeu gedra het, steier na die uitbreek van Avian Influenza en vleisuitvoere wat nie kan plaasvind nie. Hoeveel sogenaamde volstruisboere is hier nog oor? Klein Karoo International kan ons dalk help met syfers.
Wat ’n feit is, is dat as die landbou swaarkry, ’n land en ons dorpe ook swaarkry. Geen bespoeiingswater is meer beskikbaar uit ons twee groot besproeiingsdamme, die Kammanassie- en Stompdrifdam nie. Dié damme is die slagaar van landboubedrywighede langs die Kammanassie- en Olifantsrivier tot by Warmbad naby Calitzdorp. Die spens van Oudtshoorn,
Schoemanshoek, se water kom uit die Swartberge en Raubenheimerdam wat ook water aan die dorp voorsien. Daar is ook nou ’n beperking geplaas op die gebruik van water vir landboudoeleindes uit dié dam.
Tydens ’n bloeityd in die sestiger- en sewentigerjare in Oudtshoorn het die munisipaliteit voorsiening gemaak vir die ekstra watervoorsiening en die Raubenheimerdam gebou wat in die dorp en ’n sekere deel van die landbou se behoeftes kon voorsien.
My vraag is: Wat doen die huidige stadsvaders om die waterkrisis te bowe te kom? Daar is gerugte dat die Raubenheimerdam se wal gelig sal word om kapasiteit te vergroot, maar niks word daadwerklik gedoen nie, of is dit ook maar net raad- saal- en politieke praatjies?
Daar is geboor by Blossoms, miljoene rande aan boorgate gespandeer, goeie water geskik vir huishoudelike gebruik gekry, maar is daar enige aksie om die water tot in Oudtshoorn te kry om die waterkrisis te verlig?
Met die beperkings op waterverbruik, mag water net op sekere dae en tye vir tuine gebruik word. Bome en tuine is aangelê in hierdie andersins dor landskap van ons wat darem ’n bietjie groenigheid en lafenis bied in die warm somer. Deur water te onttrek sal baie bome en tuine tot niet gaan. Kyk in ons munisipale tuine wat nie onderhou word nie. Is dit hoe ons ons dorp wil sien? Nie ek nie! Ons sal moet begin om ons tuine beter te beplan en uit te lê, maar ai hoe gaan ons dorp sonder ’n groenigheid van gras dan lyk?
Kan die munisipaliteit nie aan die inwoners meer duidelikheid gee oor hul kort- en langtermynplanne om die waterkrisis die hoof te bied nie.
Soos almal weet, het die berge rondom Oudtshoorn verlede jaar kaal gebrand. Dink net hoeveel afloopwater daar die winter, as ons goeie reën kry, gaan wees. Dit is vloede, want daar is geen plantmateriaal om die water “vas te hou” nie. Die Grobbelaarsrivier is oorgroei met riete, dink net aan die obstruksies wat dit gaan veroorsaak by al die padoorgange in die dorp!
Wat het die munisipaliteit in plek om die rivier skoon te hou? Hier is ’n goeie werkskeppingsgeleentheid vir werkloses.
Ons soek ’n raad wat sy sout werd is en nie net in raadsale vergader nie, maar wat vooruitbeplan, hul hande vuil maak en die beste vir die dorp gee. Of speel interne politiek en mag ’n te groot rol in die uitvoering van pligte? Daar moet geld wees vir dié projekte, want ons munisipale rekeninge is baie hoog! Ons as burgers word leeggetap ten koste van ons dorp Oudtshoorn.
– Nantie, Oudtshoorn
(Die brief is aan die munisipaliteit gestuur vir reaksie.
• Vorige berigte oor waterkwessies:
https://www.diehoorn.com/munisipaliteit/regering-bewillig-fondse-vir-blossoms-maar-geen-vir-nog-n-dam/)
Oortrek van vullis
Met verwysing na sekuriteitspersoneel wat moet omsien na die veiligheid van inwoners wat hul vullis na die sogenaamde “tiep” neem (Die Hoorn van 26 April), graag die volgende:
Dit is ’n hartseer dag vir ons dorp dat niemand, dit sluit munisipale personeel in, veilig is om van hul huishoudelike en tuinvullis ontslae te raak by die munisipale stortingsterrein nie. Maar dit is nie waar dit begin en eindig nie.
Daagliks word die dorp se strate, ook die woonbuurte, oorstroom met sogenaamde trolliemense wat kom rondkrap en aas op al wat vullissak is wat uitgesit is vir verwydering deur die munisipaliteit se vullisverwyderingstrokke. Dié persone slaap al saans in die buurte om soggens eerste by die vullissakke te wees om sodoende te aas wat geskik is vir hersirkulering. Dié persone is ’n sekuriteitsrisiko vir die omgewing. Verder skep dit ook onhigië- niese toestande, met ontlasting en urinering in die areas waar hulle oornag.
Nadat daar in die vullissakke rondgekrap is, lê die area bestrooi met vullis uit die sakke wat die wêreld vol waai. Dan word die vullis op selfgemaakte trolles vir herwinning weggeneem. Langenhovenweg is nou ’n hoofweg vir trollies en die een baan word permanent beset deur die trollies wat ’n invloed het op die verkeersvloei. Soms is daar trollies in beide bane. My vraag is: Waar is die verkeers- en wetstoepassers? Is dit nou maar net reg dat so iets gebeur? Is dit nou die norm, want almal doen dit? Soos dit ook deesdae reg is om nie stil te hou by ’n stopteken nie of oor ’n rooi verkeerslig te ry?
Ons as inwoners van Oudtshoorn kan nie net toelaat dat ons dorp agteruit gaan en besoedel word nie. Neem u voertuig, mnr die munisiplale amptenaar – ek sien nogal baie luukse voertuie agter die munisipale kantore – en ry uit op die De Rust-pad en begin rondkyk net nadat u by die begraafplaas verby is. Ek dink u sal geskok wees om die omvang van rommelstrooing te beleef. Is dit die beeld wat Oudtshoorn moet uitdra aan besoekers uit die noorde?
Ek wil graag ’n paar voorstelle maak oor hoe om die rommelstrooiing en krappery in swartsakke te beperk:
1. Gee die munisipale wetstoepassers meer mag om op te tree teen die sakkrappers en rommelstrooing.
2. Munisipale wetstoepassers moet optree teen trollies wat onwettig op openbare paaie is en ook optree teenoor persone wat nie by stoptekens stilhou nie en oor rooi verkeersligte ry.
3. Tree in gesprek met kettingwinkels om plastieksakke in Oudtshoorn te verbied.
4. Tree op teen algemene rommelstooiers, veral waar vullissakke en rommel op enige plek gestrooi word.
5. Vir meer effektiewe bestuur van die vullisverwydering:
• Gaan steek kers op by ander munisipaliteite en leer by hulle van beter afvalbestuur.
• Maak vullisverwydering deel van werkskepping.
• Omhein die vullisterrein behoorlik.
• Behoorlike toegangsbeheer met slegs een hekingang.
• Alle persone wat die terrein betree teken in by toegangsbeheer.
• Geen persone kom perseel binne te voet nie.
• Sorg dat alle voertuie wat perseel binnekom se vullis reeds as tuinvullis en huishoudelike afval geskei is.
• Voorsien inwoners van verskillende kleur vullissakke sodat vullis vooraf in herwinbare en nie-herwinbare materiaal gesorteer kan word.
• Rig ’n fabriek op op die stortingsterrein vir vullissortering (Die munisipaliteit beskik seker oor goeie ingenieurs om behoorlike beplanning te kan doen met vervoerbande, ens).
• Maak gebruik van die persone wat van vullissak tot vullissak loop vir herwinning om deel te raak van hierdie projek. Betaal hulle ’n salaris uit die verkope van die herwinde materiaal.
Die munisipaliteit kan sy krag, tyd en geld wat hy nou wil bestee aan straatnaamsveranderinge, gebruik om so ’n projek aan die gang te kry.
As ons nie daadwerklik gaan optree nie, is al die nuwe en positiewe inisiatiewe wat geneem word deur KKI en betrokkenes om toerisme te bevorder doodgebore. Wie wil na ’n dorp kom wat oortrek is van vullis?
– Nantie, Oudtshoorn
(Die brief is aan die munisipaliteit gestuur vir reaksie.
Dit is jammer dat die munisipaliteit nie op die brief gereageer het nie, aangesien talle van die voorstelle reeds deel is van die munisipaliteit se beplanning vir ’n nuwe stortings- en herwinningsterrein op Oudtshoorn, en baie van die vrae aangespreek is by die jaarlikse inligtingsvergaderings wat die munisipaliteit onlangs in al die wyke gehou het. – Redakteur)
Klagtes nie ondersoek
Die berig in Die Hoorn van 3 Mei oor die Valke, die Oudtshoorn en George Munisipaliteite en minister Bredell se belofte dat alle rapporterings van korrupsie ondersoek sal word, is van toepassing.
As belastingbetaler en inwoner van Oudtshoorn wil ek dit onomwonde stel dat ek minister Bredell nie glo nie. Op 16 Oktober 2017, 13 April 2018 en 18 April 2018 het ek e-posse aan die minister gerig oor onderwerpe wat dui op wanbestuur/versuimings deur Oudtshoorn se raad.
Weet u wat – tot vandag (4 Mei 2018) was daar geen reaksie van die minister nie. Die beste wat gebeur het, is dat ’n dokument waarin die minister genoem word, van die Oudtshoorn Munisipaliteit se webwerf verwyder is, dit verander en in gewysigde formaat amper sewe maande nadat dit op die webblad geplaas is, weer herplaas is.
Steeds is my klagtes nie ondersoek nie. Daarom sê ek aan die agbare minister: Meneer, u praat nie die waarheid as u sê dat alle rapporterings ondersoek sal word nie.Dit lyk vir my of daar selektief omgegaan word met ondersoeke en die skielike hele Wes-Kaap DA/Valke-“hype” is die gevolg ons nuwe president se “zero tolerance” met korrupsie.
– André Barnard, Oudtshoorn
(Die brief is aan minister Bredell se kantoor gestuur vir reaksie.)