Deur Liesel le Roux
Die Hoorn wil inwoners wat by die toerismebedryf in die Groter Oudtshoorn betrokke is, aanmoedig om se-ker te maak hulle voldoen aan alle toepaslike wetgewing.
Daar het verlede week ’n klein storm losgebars ná ’n berig in Die Hoorn en plasings op sosiale media omdat die Besigheidskamer die munisipaliteit versoek het om seker te maak dat almal wat verblyf verkoop, aan die vereiste wetgewing ten opsigte van byvoorbeeld hersonering of toestemming vir die verandering van gebruik voldoen.
Dit is bloot die regte en eerlike ding om te doen.
Dit is ook hoe besigheidseienaars veronderstel is om hul besighede oral te bedryf – onderhewig aan die toe-paslike wetgewing.
Dit is hoe ons veronderstel is om daagliks as wetsgehoorsame burgers te funksioneer. Byvoorbeeld: Wanneer ons ons voertuie op die pad be-stuur, is ons net so onderhewig aan die toepaslike wetgewing.
Ons wil aanbeveel dat persone betrokke by die toerismebedryf – op klein of groot skaal – gerus kundiges vir raad sal nader om seker te maak hulle voldoen aan vereistes.
Dit bly die verantwoordelikheid van almal wat op die een of ander manier ’n besigheid bedryf – deur iets te verkoop en geld te maak. Dis wat elke nuwe sakepersoon moet doen.
• ’n Navraag van Die Hoorn aan die speaker se kantoor en die munisipaliteit oor wetgewing/regulasies ten opsigte van verblyfplekke was teen druktyd nog nie beantwoord nie. Ons sal aan ons lesers terugvoer gee as ons dit ontvang.