Dis weer hondeskoue dié naweek!
Deur Liesel le Roux
SOWAT 200 honde van dwarsoor Suid-Afrika gaan Saterdag en Sondag aan twee groot honde-skoue op Oudtshoorn deelneem.
Dié jaarlikse hondeskoue van die Outeniqua Kennel Club en die George Kennel Club, is ’n hoogtepunt op die jaarlikse kalender van elke diereliefhebber van die dorp en omgewing.
Ook die honde-eienaars reis – ondanks stygende koste – graag na Oudtshoorn.
Veral vir die stedelinge is Oudtshoon met sy gasvrye inwoners en die wye belangstelling wat die hondeskoue jaarliks uitlok, ’n gewilde bestemming!
Verskeie honderasse – van die klein miniatuur-Pinscher en die reuse Rottweiler – gaan weer meeding met die doel om aangewys te word as die beste in hul ras en uiteindelik ook as die beste hond op die skou.
Die hondeskoue vind vanjaar op die Laerskool Wesbank se sportterrein in Vredestraat plaas.
Eet- en drinkgoed sal te koop wees.
Die beoordeling van die honde vind op albei die twee dae tussen 08:00 en 14:00 plaas.