Goeie musiek, wyn, brood en sop!

Twee van die kunstenaars, Gerrit Jordaan (heelbo) en Ruan van der Vyver. Foto verskaf

Twee van die kunstenaars, Gerrit Jordaan (bo) en Ruan van der Vyver (onder). Foto’s verskaf

3 Kunstevriende4

DIE volgende konsert van Oudtshoorn Kunste­vrien­de bring op Donderdag (21 Junie) ’n groep top-kunstenaars na die Klein Karoo Ostrich Emporium op Oudtshoorn.

Die konsert getitel Musiek in lig en skadu bied onder meer die pianis Gerrit Jordaan met improvisasies van Abdullah Ibrahim; die sopraan Lida de Villiers wat gedigte van Ingrid Jonker, Boerneef en Antjie Krog – getoonset deur Jordaan – gaan uitvoer; die tjellis Cornèl Engelbrecht  met ’n werk van Rachmaninov, die violis Calvin Steyn met ’n werk uit die opera Thaïs en Ruan van der Vyver op fluit met Variasies op ’n tema van Chopin. Die kwartet sal Nocturnes van Stahl en Doppler speel.

Die uitstaande groep kunstenaars woon almal in die Suid-Kaap.

Jordaan, orrelis van die NG Kerk George en voorsitter van die SA Kerkorrelvereniging, is ook ’n uitstaande pianis wat al wyd in

Suid-Afrika, Europa en Skandinawië opgetree het.

Lida de Villiers, musiekonderwyser by die Holy Cross Primêr op George, was die eerste wenner van die George Jong

Musikantekompetisie in 1989 en was al by dosyne produksies vir die George Arts Theatre en ook elders in die land betrokke.

Ruan van der Vyver is ook musiekonderwyser aan die Hoërskool Outeniqua, en het al saam met talle orkeste opgetree, onder meer as solis met die Kaapse Filharmo­nie­se Orkes.

Calvin Steyn was tydens sy B Mus-studie lid van die Universiteit Stellenbosch (US) Simfonie-orkes  en die US Camerata.
Hy is tans die hoof van musiek aan die Laerskool George-Suid.

Cornèl Engelbrecht, ’n tweedejaar BMus-student aan die US, studeer klavier en tjello en is die pianis vir die US Jazzorkes.

• Die konsert begin om 18:30 vir 19:00 en die prys van R100 sluit ’n verwelkomingsdrankie in met sop en brood ná afloop van die vertoning.

• Kaartjies is te koop by Die Herrie; Annelise Schutte Vlok (0725923928); Sarel Jonker (083 346 4235) of bespreek per e-pos by tonie1@telkomsa.net.

3 Kunstevriendead1