Klein Karoo Klanke dié Vrydag

Twee jong plaaslike kuns­tenaars agter hul instrumente by ’n vorige vertoning van Klein Karoo Klanke. Hulle is van links Doug van Tonder en Gerdus Lategan, wat weer Vrydag te sien sal wees saam met ander kunstenaars. Fotos verskaf

Twee jong plaaslike kuns­tenaars agter hul instrumente by ’n vorige vertoning van Klein Karoo Klanke. Hulle is van links Doug van Tonder en Gerdus Lategan, wat weer Vrydag te sien sal wees saam met ander kunstenaars. Fotos verskaf

Deur Liesel le Roux
DINGE gebeur deesdae op die musiekfront op Oudtshoorn.

Behalwe vir die herlewing van die dorp se mu­siekvereniging onder die naam Oudtshoorn Kunstevriende (sien berig onder), het ’n nuwe musiek-inisiatief – Klein Karoo Klanke – vroeër vanjaar op die dorp ontstaan wat dit ten doel het om plaaslike musiektalent blootstelling te gee.

Klein Karoo Klanke se derde vertoning vind Vrydagaand van 20:00 tot 23:00 by La Dolce Vita op Oudtshoorn plaas. Agter die verskillende instrumente en die mikrofoon sal Jaco Kriek, Marisca Rain, Doug van Tonder, Janine Fourie, Gerdus Lategan,

Josh Paul Williams en nog ander plaaslike talentvolles te sien wees.

’n Nuwe inwoner van Oudtshoorn, Leonard Grove, het dié inisiatief geloods.

“Met Klein Karoo Klanke wil ons ’n intieme ervaring skep. Dit gaan oor musiek en plaaslike talent. Ons wil talentvolle plaaslike musikante die geleent­heid gee om gehoor te word. Musiek bring almal bymekaar,” sê Leonard wat sowat nege maande gelede van Johannesburg na Oudtshoorn verhuis het.

Hy sê die gehore wat tot dusver kom luister het, sluit letterlik almal in – van jonk tot oud.

Klein Karoo Klanke sal voortaan maandeliks plaasvind.

Toegang tot die vertonings is R55, met R5 daarvan wat aan Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) geskenk word.

Vir navrae en besprekings kan Leonard by 072 242 4742 gekontak word.