
Die dood is iets wat vir almal voorlê, niemand weet wanneer ons dae op hierdie aarde getel is nie. Soos die gesegde sê “No one gets out of here alive,”
So sleg soos wat die verlies van ’n geliefde is, net so sleg is dit wanneer daar groot finansiële druk op die persoon se familie geplaas word sou daar nie genoegsame of selfs geen voorsiening wees om jou geliefde te begrawe nie.
Ons familie was tot dusver die hartseer van ’n geliefde verloor gespaar, maar in ’n kort tydperk het ons die twee ankers in ons familie verloor. My oupa Thinus was 93 jaar oud toe hy oorlede is, en ons het geweet sy tyd kom nader. Ons kon soveel moontlik tyd saam met hom spandeer en afskeid neem. Die skok het egter vyf weke later gekom toe my ouma Rika op 87 oorlede is.
Ja, dit is ook ’n goeie ouderdom, maar vir iemand wat nog die dag voor haar beroerte saam met haar vriendinne gaan tee drink het by ’n koffie winkel op die dorp, ’n ouma wat kon WhatsApp, haar eie internetbank werk en die verskil tussen lugtyd en data geken het, was dit werklik ’n groot slag vir ons familie.
Hulle was 70 jaar ’n paartjie en 69 jaar daarvan getroud. Ek dink sy het gesterf aan ’n gebroke hart, omdat sy te veel na my oupa verlang het. Dit maak dit nie makliker vir die res van ons nie, maar dit bring tog troos op sy eie manier.
Dit kan egter na ’n sterfgeval, ’n deurmekaar, hartseer, en soms intimiderende paadjie wees. Dank vader vir engele wat op ons pad gekom het, wat reeds deur dieselfde gegaan het en presies geweet het wat om te doen.
Ek stel sterk voor dat alle persone êrens in hul huis ’n lêer moet hê, waarin jou testament, begrafnispolis, enige wense vir jou begrafnis, en selfs briewe vir geliefdes in gebêre moet wees.
Dis baie moeilik om te begin soek na goed, as jy nie weet waar om te kyk vir wat nie.
My ouma het aan elke kind in hul gesin (hulle het vyf kinders gehad), ’n brief geskryf ’n paar jaar gelede, en kon dit aan elkeen gestuur word. Ons het ook geweet hulle testament is by hul prokureur en waar hulle begrafnispolisse uitgeneem was.
Die oomblik toe hulle sterf, is die begrafnisondernemer waar hulle polisse was gebel om die liggaam te kom haal. Die volgende dag het ons na hul kantoor gegaan met hul ID boekies om al die nodige vorms in te vul en te teken. Dit is uiters belangrik om ’n gerespekteerde begrafnisondernemer of maatskappy te gebruik. Hulle hulp en bystand met die dood se registrasie se waarde was onmeetbaar.
Beide my ouma en oupa wou veras word. Verassings kan tussen R15 000 en R20 000 kos, dit kan ook selfs meer wees, afhangende van enige ekstra uitgawes soos ’n duurder kis. My oupa het ’n pasaangeër gehad wat eers verwyder moes word, wat die verassing duurder gemaak het. Die bedrag sluit ’n standaard kis, vervoer van die liggaam na die krematorium, verassing en terugbring van die as in. Hulle as was ook in ’n mooi houtboksie gesit en terugbesorg aan ons familie.
Na die tyd moet daar ook besluit word wat met die as gaan gebeur. Verskeie kerke en begrafnisondernemings het ’n “Muur van herinnering”, waar nissies bespreek en betaal kan word, en geliefdes daar gebêre en besoek kan word. Ons het my oupa en ouma saam by die Voortrekkermonument gaan sit. ’n Gedeelte van hulle as is na Amerika gestuur na familie waar hulle as by die “Red Wood Forrest” in Kalifornië gestrooi is.
Die volgende word addisioneel uitbetaal, hierdie is slegs die gemiddelde koste vir dienste gelewer tydens die diens. Die dominee word sowat R1 000 betaal, koster R500, klankman R500 en orreliste R700. Die prys vir die lykswa (sou daar een by die begrafnis wees) verskil van ondernemer tot ondernemer. Blomme, eetgoed, afdrukke en begrafnisboekies word deur die familie by die verskeie verskaffers bestel en betaal. Dit is nie ingesluit by die bogenoemde pryse nie.
Begrafnisse waar persone ter aarde gestel (begrawe) word kan tussen R10 000 tot R30 000 wees en selfs nog duurder as verassings. ’n Ses voet graf kos ongeveer R3 000 wat by die munispaliteit bespreek en betaal word, ’n dubbel graf kos ook meer (waar twee grafte bo op mekaar is). ’n Graf kan vooraf bespreek en betaal word. Dan is daar ook opsies om die graf te laat uitbou en ’n groot verskeidenheid kiste en grafstene wat van middelmatig tot duur geprys word.
Gewoonlik is ’n paar opsies reeds ingesluit by die polis, ont-hou om navraag te doen oor die verskeie opsies.
Dit is belangrik om ’n polis uit te neem vir jouself en jou geliefdes, al is dit net om die basiese onkostes te dek. Almal wil hul geliefde met waardigheid begrawe, en wanneer daar nie enige finansiële voorsiening vroegtydig gemaak is nie, kan dit byvoeg tot die bekommernisse, hartseer en skuldgevoelens wanneer jou familie nie kan betaal om jou te laat begrawe of veras nie.
Wees dus voorbereid, want niemand weet wanneer hul strepie in die sand getrek is, en hul laaste asem uitgeblaas gaan word nie. (Deur Angelique Erasmus)