Rosevalley loslitdag om jeug te inspireer

Mej Rosevalley in die middel is Caitlin Lewis saam met die eerste prinses, Amandla Bruintjies (links) en die tweede prinses, Hadean Douw (regs). Foto verskaf

Die Breakloose Anti Dwelm Gospel Organisasie het Saterdag, 2 Maart, in samewerking met verskeie geestelike leiers van Rosevalley en Rosebank in Oudtshoorn, ’n loslitdag vir die kinders aangebied.

Verskeie aktiwiteite is vir die dag, en opeenvolgende dae beplan in ’n poging om die jeug en veral die jonger kinders, besig te hou met opbouende aktiwiteite. Sodoende word daar gepoog om hul weg te hou van die dwelmmisbruik en bendes. “Ek wil ons jeug bedank vir hul goeie ondersteuning Saterdag. Ons het weereens besef dat as ons hande vat daar goeie veranderinge in ons gemeenskappe gebeur”, het Timotheus Donson, voorsitter van die organisasie gesê.
Daar was ook ’n dans en skoonheidskompetisie vir die kleiner dogterjies. Caitlin Lewis is as Mej Rosevalley gekroon. Die eerste prinses was Amandla Bruintjies, en Hadean Douw was tweede prinses.

“Die byeenkoms se doel is om die jeug te motiveer en te besef dat daar iets goeds in hulle is. Dit is ook ’n manier om hulle besig te hou en ook te weerhou van goed soos dwelmmisbruik en bende aktiwiteite. Dit is afbrekende gedrag wat in die gemeenskap aangeleer word”, sê Donson.

Hy sê verder hulle glo dit belangrik is om op ’n vroeë stadium in die kinders se lewe betrokke te wees sodat hulle positief beïnvloed kan word om goeie keuses te maak wat hul toekomstige loopbane betref.

Die organisasie vertrou dat hulle soortgelyke programme sal kan aanbied en wil graag ’n beroep op die gemeenskap doen om betrokke te raak as hulle ’n positiewe uitwerking op die jongmense se lewens wil hê. Kontak Donson by 063 301 2005 vir meer inligting. (Deur Lindi Brill)