Van bendelid tot advokaat

Adv Shawn Ferreira word hier deur adv Stephen Lourens geluk gewens. Foto: Garnett Wicomb

HY was ’n lid van die Americans, aan drank verslaaf en in en uit in die hof en tronk todat hy besluit het tot hiertoe en nie verder nie.

Dit is die verhaal van Shawn Ferreira (38) van Dysselsdorp wat verlede Vrydag in die Hooggeregshof in George as advokaat tot die balie toegelaat is.

Volgens Ferreira het hy in 1998 sy regstudie aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth ge­staak, huis toe gekom en by bendebedrywighede betrokke geraak.

“Ek was ’n rebel wat my eie kop gevolg het. Ek was soet in die huis, maar stout buite en is voortdurend deur die polisie gewaarsku.

“Ek was vir dertien sake in die hof en verhoorafwagtend in die tronk, maar met die Vader se genade is ek op alle sake onskuldig bevind. Ek was in die hof vir geweld, poging tot moord, maar nooit vir diefstal of verkragtings nie.

“Drank was my grootste swakpunt, maar gelukkig het ek nooit met dwelms en tik te doene gehad nie.”
Sy dogter het hom op ’n Sondag in die tronk besoek en daardie dag het hy besluit: “Ek kom nie weer na dié plek toe nie.”

Hy het in 2004 besluit om pad te gee uit Dysselsdorp en het by ’n tante in Kathu in die Noord-Kaap gaan woon.

Daar was hy vir ’n tyd lank ’n polisiereservis voordat hy na Kaapstad verhuis en sekuriteitswerk gedoen het.

’n Onbekende man het op ’n dag aan hom gevra of hy vir altyd so wil sit.

“Dit het my geskok en ek het daaroor gedink.”

Dié man het hom gehelp om by Unisa te re­gistreer om sy regstudie voort te sit.

Hy het sy eerste drie modules in 2006 voltooi terwyl hy steeds as sekuriteitsbeampte gewerk het.
“Ek het my bonusgeld net so vir my studie gebruik en in 2015 my LLB-graad verwerf.”

Ferreira vertel dat hy in 2011 in die huwelik getree het. Drie dogters is uit die huwelik gebore is.
“Die huwelik het egter nie uitgewerk nie.””

Gedurende 2016 het hy weer sekuriteitswerk gedoen en werk by prokureursfirmas gesoek totdat hy in Junie vanjaar aansoek gedoen het om as advokaat tot die balie toegelaat te word.

Ferreira vertel dat hy ook groot dank verskulidg is aan ’n plaaslike staatsaanklaer, Corné Pretorius, wat bewus was van sy regstudie en hom altyd in die hof aangemoedig het om daarmee voort te gaan.

“En vandag is ek nie spyt nie,” sê hy.

Ferreira sê sy boodskap aan vandag se jongmense is om by jeugorganisasies betrokke te raak, aan te hou studeer en nooit moed op te gee nie.

“Vriende kan jou inspireer of vernietig. Kies hulle wyslik.”

Ferreira is die seun van John en Johanna Morris van Dysselsdorp en het nog ’n broer. Sy pa is in 2010 oorlede. Hy het sy laerskoolopleiding aan St Konrad Primêr ontvang en in 1997 aan die Dysselsdorp Sekondêre Skool gematrikuleer.

Deur Garnett Wicomb

9 Comments on "Van bendelid tot advokaat"

  1. Maria Magdalena Beukes | December 6, 2019 at 7:02 am | Reply

    Ja gaan na skole en vertel die jeug v.d gevare van vriendskap dis onse jeug se grootste probleem.

  2. This is what God can do. God has the last say over your life nor matter what the enemy tries my brother plz come visit Delft and motivate our young ppl

  3. Dit is deursettingsvermoë en seën. Ek het ook gaan werk om te studeer!
    Doet so voort!
    Dit is louter vreugde!
    Henry Davids
    GRABOUW

  4. How do we get in contact with him,we need motivational speakers around Mpumalanga….God’s plàn is final.

  5. Suskses vir jou broer as ons maar net almal die uithou vermoë kan besit om te strewe na suses.ek het ook regsmatriek gestudeer maar tye was te moeilik.kon nie verder nie .

  6. Eustace Witbooi | December 3, 2019 at 9:03 am | Reply

    Hierdie is voorwaar ‘n goeie storie om te vertel.

  7. Prys die HERE vir Sy groot Wonderdade.
    Mag die HERE u bewaar in die holte van Sy hand.Prys Hom solank u lewe.

  8. A rolemodel worthy of emulation.Praise God. Please visit schools and motivate our youth. They often lack role models.Praise God

  9. Ek het baie groot respek vir iemand soos jy,groot insperasie vir ons jongmense

Leave a comment

Your email address will not be published.


*