Vakansie: hoe gemaak met jou viervoetkinders?

Dis een van die dae vakansietyd en met skole wat op 13 Desember sluit, slyp vakansiegangers reeds hul tande vir son, see, roomys of luilekker dae gevul met ontspanning rondom die braai-vleisvure en geliefdes wat bymekaar kom.

Maar hoe gemaak met jou beste vriend – die viervoetige soort?

Sommige vakansieoorde, huise, bed-en-ontbytplekke en selfs hotelle laat diere toe om saam op vakansie te gaan.

Dit is natuurlik die lekkerste, want dan sluit jou vakansiefoto’s jou geliefde troeteldier in, en deel hulle in die spesiale oomblikke. Daar is wel steeds ’n paar punte om na te gaan voor woef saam met julle op vakansie gaan.

Loer na die weer – sommige diere doen nie baie goed met uiterste weerstoestande nie.

Soms is dit baie warm by die see, en koeler in die aande wanneer die wind begin waai.

Kyk watter dierevriendelike aktiwiteite naby die vakansiebestemming is, en waar wagter oral saam mag gaan. Onthou ook sy leiband! Neem iets saam wat ’n bekende reuk het soos sy bedjie of kombers om hom vinniger tuis te laat voel.

Maak seker jou hond se entings is op datum en neem sy veeartsboekie saam net vir ingeval.
Soek ook op watter veeartse daar in die omgewing is en vergewis jouself van waar hulle pratyke is, sou daar dalk ’n noodgeval opduik.

As dit soos in ons geval is waar een van ons troeteldiere ’n Persiese skaap insluit en hy nie kan saamgaan nie, volg hier nog opsies om hul veiligheid te verseker:

Daar is verskeie diereoppassers wat by jou huis vir jou diere kan kom sorg, en selfs oorslaap sodat hul glad nie alleen is nie.

Maak seker dat die oppasser jou dier voor die tyd ontmoet en so gewoond raak aan die nuwe mens in sy huis.

Skryf ook enige spesiale instruksie vir hul neer, so ook ’n kontaknommer van ’n naasbestaande sou jy buite bereik wees en ook noodnommers van jou veearts. Sorg ook dat daar genoeg kos is vir die tydperk wat jy op vakansie gaan. Maak ook net seker of jy vir die oppasser ook kos moet voorsien sou hulle in jou huis bly.

Daar is ook ’n opsie dat jou dier by ’n diereherberg kan gaan loseer. Maak seker daar word vroeg genoeg plek bespreek, omdat spasies gewoonlik beperk is.

Dit is uiters belangrik dat jou dier se inentings almal op datum is, anders sal jou troeteldier nie daar kan bly tydens jou vakansie nie. Vind uit of die fooi wat jy betaal by die kennel jou dier se kos ook insluit en watter tipe kos dit is. As jou dier op ’n spesiale dieet is, maak seker jy verskaf die kos om sy gesonheid te veseker.

Mens is maar altyd bekommerd of jou geliefde dier OK sal wees, en soms gebeur onvermydelike voorvalle. Hier kan ek uit persoonlike ondervinding getuig toe ons oppasser ons skakel oor ’n slang in die huis. Gelukkig het sy kop gehou en al die honde vinnig in ’n ander vertrek toegemaak terwyl sy vir die slangvanger gewag het. Die worshond was effe meer hardkoppig, maar Wors en Kobra is albei veilig. Die kobra is later ver weg van die huis vrygelaat.

Wat jou planne ookal hierdie vakansie is, soos wat jy reeds vir jou vakansie vroegtydig beplan en bespreek, geld dieselfde vir jou troeteldiere by die huis. Maak vroeg genoeg seker dat hulle ook veilig is hierdie vakansieseisoen. (Deur Angelique Erasmus)

Droëwors, die hanslam sal ongelukkig nie kan saamgaan op vakansie nie. Foto: Angelique Erasmus